Wednesday, 11 March 2009

Hy’t geweet hy sterf, sê man se pel

Mar 10 2009 07:58:29:940PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – “Kobus, my ou maat, dit is hospitaalsake hierdie.”

Dit was mnr. Riaan van der Walt (44, van dié stad se laaste woorde net nadat hy die naweek koelbloedig geskiet is waar hy op ’n plaas naby Modimolle (Nylstroom) in Limpopo gestaan en vleis braai het.

Hy het dié woorde aan mnr. Kobus Krause, eienaar van die plaas waar hy op kort afstand met ’n gesteelde .308-jaggeweer doodgeskiet is, gesê.

“Ek het gesien sy arm bars oop en dat hy op die grond neersak.

“Ek het ook afgesak na hom, sy kop na my toe gedraai en toe rol sy oë om. . . hy was dood,” het Krause gister gesê.

Krause is ’n familielid van Van der Walt se vrou, Wilma, wie se verjaardag hulle met dié braai op die plaas gevier het.

Mnr. Job Herbst, plaasbestuurder, het gesê Van der Walt het ’n braaivurk in sy regterhand gehad. Sy linkerarm en hand was in die lug. Hy het moontlik iets beduie terwyl hy met van die ander gaste gepraat het toe hy getref is.

Een van ’n onbekende aantal aanvallers het omstreeks 21:30 die moordskoot uit ’n beboste gebied geskiet.

“Dit was verskriklik,” sê Herbst, wat nader gehardloop om te Van der Walt te help. “Dit was sekondes, toe is hy dood.”

Daarna het hy met sy geweer skote in die rigting waaruit Van der Walt geskiet is, begin vuur. “Ek is ’n baie parate mens en het die skote geskiet om die res van ons te beskerm.”

Hy het gesê die ander gaste het in die harwar die plaashuis ingehardloop.

Kapt. Malesela Mogale het gesê die geweer waarmee Van der Walt geskiet is, is op die plaas gekry. Dit is sowat drie weke gelede tydens ’n huisrooftog in Modimolle gesteel.

Herbst is ontstoke omdat die polisie hom Saterdag van omstreeks 15:00 tot 19:00 by die polisie se speurtakkantore ondervra het. Hy is ondervra omdat hy skote geskiet het in die rigting vanwaar Van der Walt se doodskoot gekom het.

“Ek mag nie eens alleen toilet toe gegaan het of gaan water gedrink het nie. ’n Polisielid was die hele tyd by my. My menswees is aangetas,” het Herbst gesê.

Ná 19:00 is Herbst terug plaas toe en volgens hom het die polisie hom tot Sondag omstreeks 20:00 onder huisarres geplaas. Krause het gister ook gesê die manier waarop die polisie vir Herbst behandel het, was onnodig.

Supt. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Modimolle, het gesê Herbst is as deel van die ondersoek ondervra. Ledwaba het gesê niemand is nog weens die moord in hegtenis geneem nie.

Van der Walt word oormore om 14:00 uit die NG-Moedergemeente in Mokopane (Potgietersrus) begrawe.

Enigiemand met inligting oor die moord kan kapt. Malesela Mogale bel by 082 565 8606.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2483170,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.