Wednesday, 25 March 2009

Jong ma se moordenaar lewenslank tronk toe

Mar 24 2009 09:19:35:483PM - (SA)

Herman Scholtz

Mev. Elize Havenga se moordenaar, lid van ’n kerkkoor, is gister lewenslank tronk toe gestuur weens die “weersinwekkende, gemene en wrede” verkragting en moord.

Regter Lettie Molopa van die Pretoriase hooggeregshof het Mitya Richard Rammutla (30) se weergawe dat hy haar nie wou vermoor nie, afgemaak as ’n “leuen, indien nie ’n versinsel nie”.

Hy het vroeër skuld beken op aanklagte van verkragting en roof met verswarende omstandighede.

“Jy het die gemeenskap van ’n waardevolle lid van die samelewing beroof – iemand wat bereid was om behoeftiges te help,” het Molopa gesê.

Volgens haar was die verkragting een van die wreedstes. Havenga (26) is gesodomiseer en het uitgebreide beserings opgedoen. Rammutla het haar in Februarie verlede jaar naby haar hoewehuis in Rietfontein, Pretoria, vermoor toe sy langs ’n grondpad huis toe gestap het ná ’n uitval met haar man.

Mnr. Jan Adriaan Havenga (27) het ter strafverswaring getuig hy voel bitter omdat sy dogter, Arista (byna 2), sonder ’n ma moet grootword.

Rammutla het aan mev. Havenga se familie gesê hy is jammer en dit was nie sy bedoeling om haar dood te maak nie.

Ter versagting het die verdediging aangevoer hy is lid van ’n kerkkoor en ’n eerste oortreder. Rammutla het ook tydens vonnisverrigtinge gesê hy verstaan nie wat “sodomiseer” beteken nie.

“Ek het gedink dit beteken om iemand se sak te steel.

“Ek weet nie wat in my kop verkeerd gegaan het nie,” het hy sag getuig.

Rammutla het afgekyk terwyl Molopa hom skuldig bevind en gevonnis het. Benewens die lewenslange tronkstraf weens moord is hy tot 20 jaar weens verkragting en 15 jaar weens roof gevonnis.

Sy slagoffer se familie het in trane uitgebars.

Mnr. Danie Vrey, die laaste persoon wat haar lewend gesien het toe hy haar langs die pad afgelaai het, het gesê die vonnis gaan nie sy suster terugbring nie.

Ook vir mnr. Kokkie van Jaarsveld, haar stiefpa, bring die vonnis skrale troos.

“Hy verdien die doodstraf. Ek wil hê die mense op straat moet sien wat gebeur met sulke misdadigers. Die hotelkamer in die tronk gaan dit nie doen nie.”

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2491024,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.