Saturday, 14 March 2009

Kaperkoeël sit in Pta-vrou se wang

Mar 13 2009 08:25:40:237PM - (SA)

Corné van Zyl

‘Help my, Here!” het mev. Louise Buitendag (43) oor en oor hardop gesê nadat rowers haar tydens ’n mislukte motorkaping in Pretoria in die gesig geskiet het.

Dié ma van vier was omstreeks 22:00 eergister op pad huis toe van ’n werkvergadering toe sy by ’n rooi verkeerslig op die hoek van Tom Jenkinsrylaan en Soutpansbergweg in Rietondale stilgehou het.

“Ek het ’n harde plofgeluid van die motorruit (af) gehoor. Eers het ek gedink dis dalk ’n spark plug (vonkprop waarmee grypdiewe gewoonlik motorruite breek) wat iemand teen my motorruit gekap het, maar toe sien ek ’n man reg langs my by die deur staan,” het Buitendag gister in haar bed tuis gesê.

Sy het gesê alles het in ’n breukdeel van ’n sekonde gebeur. Sy het deur die gebreekte motorruit in die loop van die man se vuurwapen vasgekyk.

“Al wat ek daarna kan onthou, is die vonk wat sy vuurwapen gemaak het toe nog ’n skoot afgevuur is,” het Buitendag met trane in haar oë vertel.

Sy het platgeval sonder om te besef dat sy raak geskiet is. Haar aanvaller het nie een keer met haar gepraat of beduie dat hy die motor wil hê nie.

“Hy hy het net geskiet. Ek het net besef ek moet nou iets doen om te keer dat hy in die motor inklim,” het sy gesê.

Sy het die petrolpedaal platgetrap, haar ligte geflikker en toeter geblaas om ’n aankomende voertuig se aandag te trek.

“Ek kon sien dié mense verstaan nie wat aangaan nie en het toe so vinnig moontlik . . . die binneliggie aangesit sodat hulle my bebloede gesig kon sien.”

Dié voertuig het toe stilgehou om te help en die insittendes het die nooddienste en polisie ontbied.

Sy is per ambulans na die Steve Biko-hospitaal geneem waar ’n dokter gesê het dis ’n wonderwerk is dat sy nog leef nadat die koeël haar op so ’n kort afstand getref het. Dit is by haar bolip in en het agter aan die binnekant van haar wang vasgeslaan sonder dat enige tand of kakebeen gebreek is. “Die dokters wil eers kyk of die risiko nie te groot is om die koeël uit te haal nie. Vir my voel dit asof al my tande aan dié kant getrek is,” het sy gesê.

Volgens sers. Lynette Erasmus, polisiewoordvoerder, is ’n verdagte aangekeer in die buitetoilet van ’n huis in die omgewing waar hy weggekruip het. Hy het aan die polisie gesê nog twee mans was saam met hom, maar hulle het weggehardloop.

“ ’n Saak van poging tot moord en poging tot ’n motorkaping word ondersoek,” het Erasmus gesê.

“Ons is baie bly die Here het haar gespaar; ons het haar nog nodig,” het Buitendag se naasoudste seun, Karl (20), gesê.

“Ek sal steeds my gewone pad ry, want dit sal vir my eerder die plek wees waar die Here my gered het. Ek beskou myself ook nie as ’n slagoffer nie, maar as ’n oorwinnaar,” het Buitendag gesê.

Haar man, Riaan, het gesê dit was vir hulle ’n groot skok. “Dit is hoog tyd dat daar iets aan die kapings . . . gedoen word.”

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2485228,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.