Tuesday, 3 March 2009

Lewenslank nadat 3 boer vermoor wat hom teësit

Mar 02 2009 09:41:43:943PM - (SA)

Mike van Rooyen

Bloemfontein. - Drie plaasaanvallers is elk weens moord hier tot lewenslange tronkstraf gevonnis en 'n vierde een is vir 24 jaar tronk toe gestuur.

Regter Ian van der Merwe in die Vrystaatse hooggeregshof het al vier ook tot tien jaar gevonnis weens poging tot moord op mnr. Flip Henning (65) van die plaas Strauss?fontein, Trompsburg.

Van der Merwe het Thabo Sempe (23), Jacob Tsoaela (21), albei van Trompsburg, Richard Masilo (36) en Mokhete Mofo?keng (36), albei van Soweto, ook elk op vyf aanklagte van aanranding van die plaaswerkers tot altesame twee jaar en ses maande gevonnis en op 'n aanklag van huisbraak met die opset om menseroof te pleeg en menseroof elk tot een jaar.

Masilo het vroegoggend op 17 November 2007 die plaaswerkers op Straussfontein met 'n vuurwapen in een se huis aangehou.

Hy was nie by toe die ander drie en hul makker, wat intussen vermoedelik selfmoord gepleeg het, mnr. Kallie Pieterse (47) in sy huis op die plaas doodgeslaan en -geskop het nie. Hy het dus 24 jaar gekry.

Sempe dien al twee lewenslange vonnisse uit weens die moord op mnr. Jan (67) en mev. Johanna Greyling (64) in Desember 2006 in hul huis op die plaas Floridam, Trompsburg.

Mofokeng was op parool uit nadat hy 11 jaar van 'n vonnis weens roof uitgedien het toe hy aan die Straussfontein-aanval deelgeneem het.

Van der Merwe het gesê Pieterse is doodgemaak omdat hy die uitvoer van die aanvallers se plan bedreig het. Hy het hom teëgesit.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2478789,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.