Wednesday, 11 March 2009

Marlothpark geskok ná moordverdagte ontsnap

Mar 10 2009 09:28:31:410PM - (SA)

Die vermeende moordenaar van ’n vakansieganger wat in 2007 in Marlothpark naby Komatipoort doodgeskiet is, het gister uit die hof op dié dorp ontsnap.

Die verdagte, mnr. Shadrack Ndzunkula (18), is in Augustus verlede jaar tydens ’n klopjag op ’n kampong naby Marlothpark vasgetrek. In dieselfde voorval is sy makker, ’n 12-jarige seun, doodgeskiet.

Hulle het ’n AK47-aanvalsgeweer by hulle gehad.

Die twee word onder meer van die moord op mnr. Fanie Keyser (47) van Pretoria verdink. Keyser is op 29 Desember 2007 by sy vakansiehuis doodgeskiet.

Ndzunkula, wat as die leier van die roofbende beskou is, is ná sy inhegtenisname ook positief met verskeie ander gewapende rooftogte, asook ’n reeks inbrake in Komatipoort, verbind.

Die nuus oor Ndzunkula, ’n Mosambieker, se ontsnapping het gister soos ’n veldbrand onder inwoners versprei.

Mnr. Jannie de Bruin, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Marlothpark, het gister woedend gereageer toe hy by Beeld daarvan hoor.

“Die dorp is weens sy ligging en die digte bosse ’n sagte teiken vir rowers. Die bendes ken die gebied soos die palm van hul hand.”

Hy het gesê dit is ernstige laksheid van die polisie om ’n gevaarlike verdagte uit hul toesig te laat ontvlug. “Die rowers is ongenaakbaar en vreesloos. Hulle gáán binnekort weer hier toeslaan,” het De Bruin gewaarsku.

Hy het ook ’n klag oor die polisie se rol in die ontsnapping by die polisie se provinsiale kantoor ingedien. Die polisie in Komatipoort het die ontsnapping bevestig, maar wou nie sê hoe dit gebeur het nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2483209,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.