Sunday, 22 March 2009

Met koeël in die rug deel pa al werk uit

Byeboer sien kans vir baie. Me. Magriet Slabbert by haar broer André jr. in die Life Anncron-kliniek in Klerksdorp. Foto: Linda de Beer

Mar 20 2009 07:33:18:793PM - (SA)

Linda de Beer

Mnr. André Slabbert (50) het Donderdagoggend bloeiend op die kombuisvloer van hul huis in Lichtenburg van sy gesin begin afskeid neem.

Skaars 24 uur later, met ’n rowerkoeël wat nog in een van sy rugwerwels vassit, het dié byeboer al kans gesien om uit sy bed in die waakeenheid van die Life Anncron-kliniek in Klerksdorp vir sy vrou, Elmarie (48), werkopdragte op ’n stukkie papier te skryf.

Die Slabberts se seun André jr. (19) is in ’n bevredigende toestand in dieselfde hospitaal. Hy is geskiet toe hy die huisrower “getackle” het wat sy pa gewond het, het me. Magriet Slabbert (23), sy suster, gesê. Die koeël wat Slabbert jr. getref het, sit nog in sy long vas. Dokters wag volgens me. Slabbert vir die bloed om te dreineer voordat hulle dit verwyder.

Beeld het gister berig hoe dieselfde rowers, wat sowat twee weke gelede by die gesin se huis in 14de Laan ingebreek het, Donderdag teruggekeer het. Hulle kon die eerste keer nie die kluis oopkry nie.

“Yes, it’s us. We’re back,” het ’n rower vir mev. Slabbert gesê toe sy vra of hulle vir die vorige inbraak verantwoordelik was. Die rowers is dié keer met ’n groot versameling jaggewere, drie handwapens, kontant, juwele en selfone vort.

Slabbert jr. het gesê hy was bekommerd oor sy pa terwyl hulle langs mekaar op die kombuisvloer gelê het.

“My pa het pyn gehad en gesukkel om asem te haal. Op ’n kol het hy vir ons baai gesê . . .”

Hulle is geskiet nadat hulle kombuis toe gehardloop het om te kyk hoekom mev. Slabbert buite gegil het. Sy is oorval toe sy wou ondersoek instel na die honde se geblaf.

Die rowers het later vir die Slabberts gesê dit was nie hul plan om iemand te skiet nie. Mediese hulp het opgedaag nadat hulle gevlug het.

Kapt. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog weens die rooftog gearresteer nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2489084,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.