Monday, 9 March 2009

‘My yster skiet wittes ook’ sê polisielid glo

Mar 08 2009 10:02:46:850PM - (SA)

Buks Viljoen

’n Sakeman van Delmas leef in vrees nadat ’n polisieman hom glo verlede Maandag by ten minste twee voorvalle met ’n vuurwapen gedreig het.

“My yster skiet wittes ook!” het die polisieman glo by ’n ongelukstoneel in die dorp aan mnr. Joe Wilkinson (37) geskree terwyl hy die pistool op hom gerig het.

Die drama het Maandag begin toe Wilkinson glo in ’n woordewisseling was met die man, wie se bakkie die verkeer versper het by ’n ongelukstoneel.

Wilkinson sê hy het die man gevra om sy bakkie te verwyder. Die man het na bewering met ’n pistool in die hand op hom afgestorm.

Volgens Wilkinson het hy hulp by die polisiekantoor gaan soek. Hier het dieselfde man in die aanklagkantoor hom na bewering met ’n R5-geweer gedreig.

“Dit is eers toe dat ek besef hy is ’n polisieman,” sê Wilkinson in ’n verklaring.

Hy was so bang toe die polisieman met die geweer op hom afstorm het dat hy uit die aanklagkantoor gehardloop en tussen motors op die parkeerterrein gaan skuil het.

Hy is by die polisie weg sonder om ’n verklaring af te lê.

Toe Wilkinson later sien hoe dieselfde polisieman na bewering verskeie kere by sy huis verbyry, het hy AfriForum vir hulp genader.

“Die hele voorval het reeds ’n impak op ons gesin en ek ry saam met my vrou waarheen sy ook al gaan,” sê Wilkinson.

Mnr. Nantes Kelder, hoof van gemeenskapsbeveiliging by AfriForum, is Donderdag Delmas toe om Wilkinson met die indiening van ’n klag te help.

“Wat ons erg bekommer, is dat die polisie ten spyte van ons amptelike klag weier om vir ons te sê wie die verdagte polisieman is.

“Hierdie is blatante wangedrag en ’n duidelike voorval van rassisme,” sê Kelder.

AfriForum het ook nou klagtes by die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) en die Menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak.

Die polisie op Delmas het gister bevestig ’n klag is by hulle aanhangig gemaak, maar wou nie verdere kommentaar lewer nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2481990,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.