Tuesday, 17 March 2009

’n Groot kalmte en toe skote

Mar 16 2009 09:29:40:763PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Man van ’n kleinhoewe in Krauseville in Kameeldrift, wes van Pretoria, is eergisteraand deur twee gewapende rowers in die bobeen geskiet, aangerand en beroof.

Mnr. Jannie van Vuuren (39) is ook met ’n moersleutel agter die kop en linkeroor en met die vuis geslaan.

Die rowers het Van Vuuren oorval nadat sy hond verwoed begin blaf het.

“Ek het die besem gevat en gaan kyk, want ek het gedink dis dalk ’n ystervark. Toe ek by die heining kom, het die twee mans dit geknip en deurgekruip.

“ ’n Groot kalmte het oor my gekom. Toe vra ek hulle wat hulle soek. Hulle het in Engels geskree hulle sal skiet en toe skiet hulle my.”

Nadat die rowers hom met ’n moersleutel agter die kop geslaan het, is hulle saam met hom by sy huis in waar hulle geld en die kluis se sleutel gevra het.

“Ek het ‘ k e bo kae’ (hoeveel geld) gevra,” het Van Vuuren gister vertel.

“Ek het vir hulle gesê die polisie het beslag gelê op my vuurwapens en dat daar niks in die kluis is nie.

“Hulle wou R20 000 by my hê, maar ek het net R1 800 gehad wat hulle toe gevat het.”

Hulle het sy hande met sy stewels se veters agter sy rug vasgebind. “Ek het hulle gewaarsku om nie my beursie te vat nie omdat die polisie hulle met my kaarte sal kan opspoor.”

Die rowers het toe nie die beursie gevat nie. Van Vuuren het hulle ook gemaan om te vat wat hulle wil hê, want sy bure het die skoot gehoor en dat mense binnekort sal opdaag.

“Hulle het my Nike-tekkies en my ma se selfoon gesteel, my in die waskamer toegesluit en gevlug.”

Van Vuuren se ma, mev. Andrea van Vuuren (64), het tydens die rooftog by familie in Benoni gekuier het.

Van Vuuren het homself losgewikkel en uit die waskamer bevry met ’n ander sleutel wat in die kamer was.

Hy het die polisie, paramedici van die Steve Biko-hospitaal en die landelike beveiligingsektor in die Kameeldrift-omgewing bedank vir hul vinnige reaksie.

Me. Hettie Jordaan van die landelike beveiligingsektor het gesê hulle het ander inwoners dadelik gewaarsku gewapende rowers is in die omgewing doenig.

Die Pretoria-polisie se trio-taakgroep ondersoek die rooftog. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Mense wat tydens ’n gewapende aanval in nood verkeer, kan die landelike beveiligingsektor by 0 082 575 6001 bel.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2486532,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.