Saturday, 7 March 2009

Polisielid rand senior glo erg aan toe sy nee sê

Mar 05 2009 09:30:21:193PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Superintendent by die Pretoria-Sentraal-polisiekantoor het ’n direkteur daar glo erg aangerand nadat dié geweier het dat sy ’n staatsvoertuig gebruik om mee dokter toe te gaan.

Dir. Heidi van der Westhuizen is nou ’n maand lank met siekteverlof weens erge beserings, veral aan haar rug.

“Sy het ’n mediese toestand wat veroorsaak dat haar rugwerwel verbrokkel en die aanval het dit nou vererger,” het ’n persoon na aan Van der Westhuizen gesê. “Sy het erge pyn en daarom is sy so lank by die huis.”

Volgens ’n bron het die superintendent verlede week ’n vergadering tussen Van der Westhuizen en ’n ander senior polisielid onderbreek.

“Sy het gevra of sy ’n polisievoertuig kan gebruik, want sy wil dokter toe gaan. Dir. Van der Westhuizen het nee gesê en toe het die superintendent haar summier aangeval.

“Sy het haar gegryp en geslaan en selfs oor die tafel gegooi dat sy trek.”

Die ander senior polisielid is in ’n rolstoel en kon niks doen nie. “Sy het so groot geskrik dat sy ná die tyd traumabehandeling moes ontvang. Sy is egter terug by die werk.”

Volgens die bron was die aanval so erg dat polisiefotograwe ingeroep is om foto’s van die toneel en van Van der Westhuizen se beserings te neem.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2480921,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.