Saturday, 14 March 2009

Rower vir 30 jaar tronk toe ná moord

Mar 13 2009 09:00:52:170PM - (SA)

Sonja Carstens

’n Rower wat ’n jong man koelbloedig doodgeskiet het nadat hy eers sy beursie gesteel het, is vir effektief 30 jaar tronk toe gestuur.

Moses Mkhawane (26) van Soshanguve, noordwes van Pretoria, en sy makker, Nicholas Ngwenya (21), het mnr. Daniël Muller se beursie op 26 Augustus 2006 van sy tafel in ’n Pretoriase restaurant af gesteel.

Muller het hulle agternagesit. Mkhawane het hom in die rug geskiet waar hy onder ’n vragmotor in Zambesirylaan geskuil het.

Die mans het ook mnr. Victor Mulder, eienaar van die restaurant, van sy selfoon en R200 beroof toe hy en mnr. Alfred Chauke, die restaurant se veiligheidswag, hulle tot by ’n motorhawe gevolg en oor Muller se beursie gekonfronteer het.

’n Skoot is in Chauke se rigting geskiet.

Landdros Pieter Nel het Mkhawane tot 47 jaar tronkstraf gevonnis waarvan hy effektief 30 jaar moet uitdien.

Ngwenya is vir 11 jaar en ses maande tronk toe gestuur.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2485246,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.