Tuesday, 17 March 2009

Sakeman aangerand en vir dood gelaat deur drie inbrekers

Mar 16 2009 09:29:49:310PM - (SA)

Gloria Edwards

’n Sakeman van Benoni aan die Oos-Rand is ontvoer en erg aangerand voordat hy vir dood agtergelaat is.

Mnr. Ernest Waner (60) en ’n man (47) wat vir hom werk, is Vrydagaand deur drie vermeende inbrekers in Waner se huis in Leyesstraat, Morehill, oorval en in sy motor se kattebak gegooi voordat daar met hulle rondgery is.

Die werker, net bekend as Elijah, het ontsnap. Waner is egter erg aangerand en vir dood agtergelaat.

Mnr. Joshua Waner, sy broerskind, het gister vertel hoe sy oom se huishulp omstreeks 16:30 terwyl sy die huis gesluit het, oorval is.

“Die verdagtes het haar in die huis vasgemaak en vir my oom gewag. Toe kom Elijah daar aan en hy word ook vasgebind en geblinddoek. Hulle het my oom ingewag, hom vasgebind en geblinddoek en ’n lap in sy mond gedruk.”

Die verdagtes wou kontant en die kluissleutels hê, maar Waner het vir hulle gesê dat hy nie ’n kluis het nie.

“My oom het toe gesê hy sal hulle na sy onderneming neem om geld te kry.”

Albei mans is toe van hul selfone en beursies beroof en in Waner se motor se kattebak gegooi. “Elijah het losgekom en uit die kattebak gespring toe die motor nog beweeg het. Hy is nie beseer nie. My oom is egter pimpel en pers geslaan en vir dood in ’n veld naby die Verre Oos-Rand-hospitaal agtergelaat.”

Waner het vermoedelik van omstreeks 22:00 tot 06:00 Saterdagoggend daar gelê voordat hy eindelik deur die polisie, wat die gebied gepatrolleer het, gevind is.

“Ons is omstreeks 03:00 gekontak toe sy motor verlate naby die Lakeside Mall gekry is en het na hom begin soek,” het Waner se se broerskind gesê.

Kapt. Alfred Nakana, Benoni-polisiewoordvoerder, het gesê die beamptes wat hom gevind het, het hom na die Glynnwood-hospitaal geneem.

Me. Sally Walsh, hospitaal-woordvoerder, het gister bevestig Waner is in ’n stabiele toestand. “Hy is erg aangerand regoor sy liggaam.”

Waner self wou nie met die media praat nie. Volgens Walsh is hy nog baie verward en geskok.

Sy dogter, wat nie haar naam wou bekend maak nie, het gesê die gesin vrees nou vir haar pa se veiligheid.

Nakana het gesê nog geen arrestasies is gemaak nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2486527,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.