Monday, 30 March 2009

Samwu-lede spuit klerk met rioolwater

Mar 29 2009 08:08:42:267PM - (SA)

Magdel Fourie

Die polisie ondersoek ’n klag van aanranding nadat stakende lede van die munisipale vakbond Samwu Vrydag op Ventersdorp in Noordwes onverwerkte rioolwater oor ’n lisensieklerk gespuit het.

Me. Christina van Zyl, werknemer van die lisensiedepartement, moes ná die “traumatiese” voorval ’n voorbehoedende inspuiting teen hepatitis A kry, het sy aan Beeld vertel.

Stakende munisipale werkers in Ventersdorp en Tswaing wat tot Samwu behoort, eis beter salarisse wat met die hoër gradering van die munisipaliteite in werking moes tree.

Dié “onwettige” staking van langer as twee weke het nie net die reeds gebrekkige dienslewering in dié dorpe verlam nie, maar nou ook “rassisties” geword, het mnr. Chris Hattingh, provinsiale DA-leier, die naweek gesê.

Van Zyl het vertel sy het Vrydagoggend by die lisensiedepartement se kantore in die stadsaal uitgestap om haar motor te skuif toe sy hoor Samwu-lede betoog voor die gebou. Sy het tussendeur gehoor hoe die skare aanmerkings oor “die leliewit kantoor” maak, het sy gesê.

Toe sy terugstap, het ’n rioollorrie voor die gebou geparkeer.

’n Man het uitgeklim en onverwerkte rioolwater uit ’n pyp op die grond gespuit, het sy gesê. Toe hy haar egter gewaar, het hy die spuit op haar gerig en die rioolwater in haar gesig gespuit.

Daarna het hy dit ook by die kantore ingespuit.

“Ek was van kop tot tone vól rioolwater. Ek het histeries geword en weggehardloop terwyl die Samwu-lede my uitgetart en vir my gelag het.”

Die kantore is daarna vir die dag gesluit en sy is huis toe om te gaan bad, het Van Zyl gesê.

Daarna het ’n dokter vir haar ’n hepatitis A-inspuiting en antibiotika gegee en het sy ’n klag by die polisie aanhangig gemaak. Niemand van Samwu kon gister vir kommentaar bereik word nie.

Die Ventersdorp-polisiekantoor het bevestig ’n klag van aanranding word ondersoek.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2493532,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.