Wednesday, 18 March 2009

Skedel, handpalm bly oor

Mar 17 2009 08:29:03:773PM - (SA)

Dries Liebenberg

Durban. – Drie mans het gister in die landdroshof op Umhlali verskyn in verband met die gru-moord op ’n gewilde boukontrakteur wat die KwaZulu-Natalse noordkus geruk het.

Die skedel en handpalm was al wat oorgebly het nadat sy beweerde moordenaars mnr. Marcello Borsei (50) se lyk verbrand het. Die res was net as.

Dié gru-vonds het ’n einde gemaak aan ’n uitgebreide soektog waartydens boere, polisiereserviste en ander inwoners van die noordkus selfs op eie koste met hul helikopters en mikroligte vliegtuie na Borsei gesoek het.

Hy is verlede Dinsdag as vermis aangemeld toe hy nie die aand na die familiewoning in Ballito teruggekeer het nie van waar hy besig was met verbouings aan ’n Johannesburgse sakeman se huis in Salt Rock.

Sy broer, Al, was onrustig toe hy die aand by die huis kom en sien Marcello Borsei se honde is nog nie gevoer nie.

“Sy honde was soos sy kinders en hy sou altyd sorg dat hulle gevoer word,” het me. Yma Borsei, sy suster, gister vertel.

Daarna het Marcello Borsei se vriende van die gimnasium gebel om te hoor waar hy is en sy vriendin wou ook weet hoekom hy nie sy selfoon antwoord nie.

Al Borsei, ’n polisiereservis, het hom as vermis aangemeld en ’n soektog is op tou gesit.

Werkers het Marcello Borsei glo vroeër daardie dag met ’n hamer oor die kop geslaan waar hy op die bouterrein gesit en skryf het. Nog twee houe teen die kop het gevolg, waarna hy ook met ’n skroewedraaier in die bors gesteek is.

Sy lyk is glo daarna toegedraai, in sy bakkie gelaai en langs die Tugelarivier afgelaai waar dit met petrol aan die brand gesteek is.

Een van die verdagtes is Saterdag in Esikhawini by Richardsbaai aangekeer toe hy die slagoffer se bakkie, waarvan die registrasienommer wyd versprei is, probeer verkoop het.

Volgens me. Borsei was die werkers glo ontevrede oor hul loon. Sy het egter vertel haar broer het sy werkers R100 per dag betaal, terwyl die gemiddelde loon in die boubedryf R20 minder is.

“Marcello sou nooit ’n vlieg seergemaak het nie. Hy was ’n sagmoedige reus,” het sy gesê.

“Dit was wreed, barbaars en onmenslik.”

Mnre. Sibusiso Mncwango (22), James Buthelezi (26) en Enoch Mkhwanazi (37) word aangehou totdat hulle weer op 24 Maart in die hof verskyn.

Die polisie-ondersoek duur voort, het supt. Muzi Mngomezulu, polisiewoordvoerder, gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2487114,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.