Saturday, 14 March 2009

Skok, beloning ná moord op arm Ouma Viljoen

Mar 12 2009 08:16:27:260PM - (SA)

Reivilo (Vryburg). – Daar is niks gesteel nie, want daar was niks om te steel nie.

So sê ’n vriend van ’n bejaarde vrou van hier wat wreed in haar beskeie woonplek vermoor is.

“Sy was eensaam en vreeslik arm. Die Here weet, sy het nooit ’n vlieg skade aangedoen nie,” het mnr. Gerhard Smit, ’n vriend van mev. Suzie Viljoen (86) wat verlede week in haar “armlastige huise waar die pleister van die mure dop” vermoedelik verkrag en vermoor is, gister gesê.

Net twee leë woonerwe skei haar huis van die polisiekantoor hier.

Die polisie het vroeër bevestig Ouma Viljoen, soos sy bekend staan, is sowat ’n week gelede vol blou kolle dood in haar sitkamer aangetref.

Die gemeenskap is steeds geruk deur die wrede aanval op hul voorstoep. Almal in die omgewing het geld geskenk om vir haar begrafnis te betaal. “Boonop sorg hierdie gemeenskap vir die familie wat die begrafnis sal bywoon, se etes,’’ het Smit gesê.

“Daar is niks gesteel nie, want daar was niks om te steel nie. Sy het sulke ou, goedkoop soutpotjies versamel en dit was dit. Voordat ek haar dompelpomp, wat gesteel is, vervang het, het sy tot onlangs nog self water in ’n emmer na haar huis aangedra.

“Sy het geweier om ouetehuis toe te gaan en ons het maar vleis en groente gevat en na haar help kyk. Sy het die grootste deel van haar lewe hier gebly.”

’n Ander inwoner wat gevra het om nie genoem te word nie het ’n R5 000-beloning aangebied vir enige inligting wat tot die skuldiges se suksesvolle vervolging sal lei.

Enigiemand met inligting kan dit SMS na 079 076 1717.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Viljoen word vandag begrawe. – Nicolize van der Walt

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2484582,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.