Sunday, 1 March 2009

‘Sulke mense moet siek wees’

Mnr. Willie Klopper. (Foto: Alta Snyman)

28/02/2009 20:05 - (SA)

Randfontein

’n Jong broer en suster het gister verdwaas probeer sin maak uit die barbaarse manier waarop rowers hul pa Donderdagnag aan die brand gesteek het.

Mnr. Willie Klopper is in die hospitaal dood – 13 uur nadat bure hom erg verbrand buite sy huis in ’n veiligheidskompleks in Rustenburg aangetref het.

Die laaste keer dat hy gepraat het, was toe hy op die toneel aan bure gesê het hy is deur booswigte oorval.

“Ons sal nooit daarmee vrede kan maak nie. Jy moet siek wees om só iets te doen,” het ’n hartseer Theuns Klopper (20) gister gesê.

Klopper, ’n skagsinker wat besig was om van sy vrou te skei, het alleen in ’n gegoede buurt in Rustenburg gewoon.

Bure het Donderdagnag ’n geskreeu by sy huis gehoor en die motorhuis in vlamme aangetref. Klopper, wat 100% brandwonde opgedoen het, het uitgestrompel en in die erf ineengestort.

Die polisie sê brandstof is in die motorhuis oor hom uitgegooi en hy is aan die brand gesteek. Kapt. Elsabe Augoustides, woordvoerder van die polisie in Rustenburg, het gesê hulle kon nog nie bewyse kry dat hy vasgebind was nie soos vroeër berig is nie.

“My pa was ’n stil, nugter mens wat respek gehad het vir ander. Hy het dít nie verdien nie,” het Michelle Genis (21), Klopper se dogter, gister gesê.

Augoustides het gesê sy het in haar polisieloopbaan van 28 jaar nog nie sulke wreedheid gesien nie. “Mens verstaan dit nie. Dit is ongehoord dat rowers só iets aan iemand doen,” het sy gesê.

Net ’n selfoon en ’n beursie word uit die huis vermis.

Oorsprong:Rapport
http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2477932,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.