Sunday, 1 March 2009

Vermoor toe hy gesin teen rowers probeer beskerm

Mnr. Frikkie Jackson (26) en sy vrou, Sarie (17), met hul troue op 20 Desember verlede jaar. Dié foto is gister inderhaas ontwikkel nadat mnr. Jackson gisteroggend in die tuin van sy ouerhuis deur rowers doodgeskiet is.

28/02/2009 20:05 - (SA)

Sonja Carstens

Pretoria

’n Sewentienjarige meisie is net twee maande ná haar troue ’n weduwee nadat rowers haar man gisteroggend koelbloedig in die tuin van sy ouerhuis doodgeskiet het.

Hy het gesinslede te hulp gesnel toe hy vermoor is.

“Ek is baie seer. Hy is ’n held. Hy wou die res van ons red,” het ’n huilende me. Sarie Jackson gister gesê oor haar man, Frikkie Jackson (26), ’n duikklopper van Claremont, Pretoria.

Die egpaar is op 20 Desember getroud en hul troufoto’s was nog nie eens ontwikkel nie. Dit is gister inderhaas gedoen sodat Rapport ’n foto van die oorledene kon kry.

Vier gewapende rowers het gister in die vroeë oggendure die diefwering voor ’n sitkamervenster in die huis van Jackson se pa, Herbert (58), oopgedwing. Daarna is hy en sy vrou, Hannetjie (45), in hul slaapkamer oorval.

“Ek het wakker geword met ’n rewolwer teen my kop,” vertel Jackson sr.

Hul hande is met elektriese kabels agter hul rûe vasgebind en onderklere is in hul monde gestop.

“Een van die rowers het sy hande tussen my bene ingedruk en ’n kru dreigement gemaak,” sê ’n erg ontstelde Hannetjie.

Die booswigte het hul selfone en R800 pensioengeld gevat voordat hulle na die woonstel agter die huis is.

Mnr. George Jackson, die egpaar se ander seun, het hier saam met sy vrou, Leonie, hul drie kinders, onder wie ’n baba, en ’n skoolmaat geslaap.

“Toe ek wakker word, was die vier rowers om ons bed. Ek het vir my man gesê hulle gaan my verkrag. Hulle het hom met ’n rewolwerkolf begin slaan. Ons baba het begin huil,” sê Leonie.

Sarie het ’n geskree gehoor en haar man wakker gemaak waar hulle in ’n Wendy-hut duskant die woonhuis en die woonstel woon.

“Frikkie het ’n rower in die tuin platgetrek. Sy makkers het Frikkie twee keer in die sy geskiet. Een van die koeëls is deur sy maag,” vertel Sarie.

’n Ambulans is ontbied, maar het nie opgedaag nie.

’n Buurman het met die bloeiende Frikkie na die Pretoria-Wes-hospitaal gejaag waar hy by sy aankoms dood verklaar is.

“Hy was só ’n goeie mens, hy het ander altyd probeer help. Hy wou só graag kinders hê. Nou sal dit nooit hom beskore wees nie,” sê sy vrou.

Sy ma is ontnugter deur Suid-Afrika. “Misdadigers het die oorhand gekry,” sê sy.

“Net verlede week het my man se broerskind na Australië geëmigreer. Hy sien nie langer kans vir die misdaad nie.

“Maar ons moet hier bly, want ons het geen ander heenkome nie.”

Oorsprong:Rapport
http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2477898,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.