Monday, 2 March 2009

Vermoorde vrou nié verkrag

Mar 01 2009 07:58:41:783PM - (SA)

Louis Trichardt. – Die voormalige burgemeestersvrou van dié dorp wat voorverlede week deur vier rowers in haar huis vermoor is, is verwurg maar nie verkrag nie, het ’n lykskouing aan die lig gebring.

So sê die vermoorde me. Tienie Botha (78) se dogter, me. Susaar Schlesinger. Sy sê dit bring ’n mate van verligting by haar en die res van die familie om te weet haar ma moes in haar sterwensuur nie nog verkragting ook beleef nie.

Daar is aanvanklik gevrees dat Botha seksueel aangerand is voordat sy vermoor is omdat sy kaal was toe haar lyk in die sitkamer gekry is. Haar moordenaars het haar hande agter haar rug vasgemaak en haar naakte lyk met ’n laken toegedraai. Hulle het daarna vyf vuurwapens en juwele uit die kluis in die huis gebuit voordat hulle gevlug het.

Mnre. Thobeli Jili (25), Immanuel Thabosita (36), Thomas Ramudzuli (40), Rudzani Mufumadi (29) en David Lehaiwa (30) is weens die moord in hegtenis geneem en word aangehou.

Hulle het verlede week in die plaaslike landdroshof verskyn en die saak is tot vandag uitgestel. – Willem Pelser

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2478176,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.