Monday, 20 April 2009

Galg-poppe skok by hof

Apr 18 2009 12:22:44:970AM - (SA)

Tom de wet

ODENDAALSRUS. – “Meer bloed van boere het die afgelope tyd gevloei as in al die boereoorloë saam. Nie eens Dingaan het in sy waansin daaraan gedink om ons vroue met gebreekte bottels dood te martel nie.”

Dit was gister hier by die landdroshof op Odendaalsrus die woorde van mnr. Eugene Terre’Blanche, AWB-leier, op ’n saamtrek van die Boerevolk-Vryheidstigting waar teen borgtog vir die aanklaagdes in die moord op mev. Alice Lotter en haar dogter Helen, verlede maand op Allanridge, betoog is.

’n Konfliksituasie is op die laaste nippertjie ontlont toe Terre’Blanche se aanhangers die toespraak van mev. Mathabo Leeto, uitvoerende burgemeester van Matjhabeng, met die sing van Die Stem uitgedoof het.

Sy en ANC-aanhangers was ook vir dié hofsaak en die van twee boere en hul werknemers wat van die moord op ’n mieliedief aangekla word by die hof.

Leeto, wat toestemming vir haar optog gehad het, het die Boerevolk-aanhangers, wat nie toestemming gehad het nie, genooi om hulle by hulle aan te sluit en oor die kleurgrens heen teen misdaad te betoog. Hierop het Terre’Blanche sy groep aangehits om met trompette en die sing van Die Stem vir Leeto stil te maak.

Leeto het by die polisie daarop aangedring om hul werk te doen en die onwettige optoggangers vas te vat. Terre’Blanche se groep het daarna op sy aandrang begin wegbeweeg.

Terre’Blanche het aan sy aanhangers gesê hy is bereid om vir sy saak weer tronk toe te gaan, en sal nog sterker daar uitkom. “Moet nooit oorgee nie, want dan sal ons almal bottelstukke vreet!”

Ontstellende tonele het daarna afgespeel, waar mnr. Edwin Leemans van die Boerevolk-Vryheid-stigting opgestopte poppe eers met ’n mes en ’n gebreekte bottel gesteek het en dit toe aan die brand gesteek het.

Nagemaakte bloed het op sy hemp en op omstanders gespat.

Hy sê hy wil hiermee die wreedheid en die trauma rondom die vroue se moorde uitbeeld.

Mev. Elize Potterton, sakevrou van Odendaalsrus, het hierop sy mikrofoon gevat en gesê dit is so dat almal keelvol vir misdaad is, maar om soos barbare op te tree is nie reg nie. “Ons moet ons land in die hande van die Here gee en nie in die hande van ’n politieke party nie. Ons moet ons knieë voor God buig dat Hy oor ons regeer.”

Adv. Siphiri Moshodi, voorsitter van Odendaalsrus se gemeenskapspolisiëringsforum, het voor die hof gevra dat almal moet saamstaan teen misdaad, maak nie saak of dit wit of swart is nie. (Lees ook berig hierby.)

Oorsprong:Die Volksblad
http://jv.news24.com/Die_Volksblad/Nuus/0,,5-83_2503376,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.