Wednesday, 22 April 2009

Gewonde skiet rower met sý wapen

Apr 21 2009 07:27:24:767PM - (SA)

Hilda Fourie

’n Gewonde huisroofslagoffer van Centurion het ’n huisrower gisteroggend met dié se eie vuurwapen in die boud geskiet.

Dit kom nadat mnr. James Mitchell (40) se Duitse pointer, Roxy, in die rug en hy in die bobeen geskiet is.

Roxy moes gister van kant gemaak word. Mitchell is gistermiddag ná behandeling uit die hospitaal ontslaan.

Mnr. Herman Steynberg, hoof van patrollies by Pierre van Ryneveld se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê die Mitchell-gesin het omstreeks 02:00 wakker geword van die alarm wat in hul huis in Marylandweg in dié woonbuurt afgegaan het.

Me. Grieta Mitchell (35) het van haar slaapkamer in die gang af geloop en in een van die inbrekers vasgeloop.

Hy het die diefwering van ’n kombuisvenster oopgedwing om in die huis te kom.

Me. Mitchell is terug na haar slaapkamer, met die rower agterna. Hy het die heeltyd selfone geëis.

Roxy, een van die gesin se twee honde, het die rower aangeval, maar hy het twee skote afgevuur, waarvan een haar getref het.

Mnr. Mitchell het in ’n struweling met die rower betrokke geraak. Die rower het nog ’n skoot afgevuur wat mnr. Mitchell in die bobeen getref het.

Terwyl mnr. Mitchell en die rower geworstel het, het me. Mitchell oor die GPF-radio om hulp geroep.

“Julle moet kom help. Hulle is in die huis en skiet,” het sy glo oor die radio geskreeu.

Intussen het mnr. Mitchell die vuurwapen by die rower afgeneem en ’n skoot afgevuur. Die rower het kombuis toe gehardloop en by dieselfde venster uitgeklim.

Mnr. Mitchell het deur die venster ’n skoot afgetrek en die vermeende rower in die boud getref.

Die egpaar se twee kinders, ’n 14-jarige dogter en ’n 12-jarige seun, het die heeltyd in hul kamers weggekruip.

Die verdagte het oor mure gespring en deur erwe gehardloop in sy vlugtog.

Verskeie lede van die GPF het op die noodroep gereageer en saam met die Tshwane-metropolisie en ’n veiligheidsmaatskappy strate in die omgewing afgesper en erwe deurgesoek.

Die vermeende huisrower is in Marauderweg, ’n blok van die Mitchells se huis, gevind waar hy in ’n houthuis geskuil het.

Volgens mnr. Frans Esterhuyse, hoof van operasies by die GPF, het GPF- en polisielede die omgewing gefynkam op soek na die gearresteerde se twee makkers wat ook glo by die huisrooftog betrokke was.

’n Selfoon wat by die Mitchells geroof is, ’n flits, ’n handskoen en ’n bloedkol is onder ’n bos in ’n erf in Mustanglaan, wat Maryland- en Marauderweg kruis, gevind.

Volgens dir. André Wiese, stasiebevelvoerder van die Lyttelton-polisiekantoor, is dié bende misdadigers nie dieselfde bende wat twee weke gelede op dié gemeenskap toegeslaan het nie.

In dié vroeëre voorval is een van die misdadigers doodgeskiet.

Hy is positief met huisrooftogte in Elarduspark, in die ooste van Pretoria, verbind, het Wiese gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2505033,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.