Tuesday, 14 April 2009

‘Hier’s g’n wil om misdaad te beveg’

Razelle Botha saam met haar geliefde labrador, Whooky. Foto: Alet Pretorius

Apr 13 2009 07:38:28:053PM - (SA)

Corné van Zyl

‘As ek sien daar is ’n wil om misdaad in Suid-Afrika te beveg sal ek terugkom,” sê Razelle Botha (19).

Vyf skote het haar in Februarie verlede jaar in die bors, long, rugmurg, arm en maag getref in ’n rooftog in haar ouerhuis in Moreletapark, in die ooste van Pretoria.

Prof. Willem Botha, ’n afgetrede professor in geofisika aan die Universiteit van Pretoria (UP), was saam met sy dogter tuis toe die twee rowers toegeslaan het. Hy is in die lies gewond. Niks is in die rooftog gesteel nie.

“Ek het regtig gedink die polisie sou teen dié tyd (’n jaar sedert die rooftog) al die rowers gevang het,” sê sy.

“Ek kry nog nagmerries en is maar baie paranoïes, juis omdat die rowers nog nie gevang is nie.”

Sy is in ’n rolstoel, maar kan al met krukke loop.

“Ek het nog geen gevoel in my regterbeen en -voet nie, maar het van die gevoel in my linkerbeen teruggekry. Ek wil graag heeltemal onafhanklik van die rolstoel wees.”

Botha vertrek vandeesmaand Kanada toe om haar as ’n mediese dokter te kwalifiseer. Sy is deur die Universiteit van Calgary se fakulteit gesondheidswetenskap aanvaar.

Sy beplan om in die volgende sewe jaar in biomediese wetenskappe te spesialiseer.

Botha kan nie wag om met haar studie te begin nie.

“Die meeste van my vriende is al in hul tweede jaar. Omdat ek destyds in matriek goed in al my vakke gevaar het, het ek nie regtig geweet wat ek wou studeer nie.

“Ná al die tyd wat ek in hospitale deurgebring het, het ek besluit om ’n dokter te word.”

Botha se jong labrador, Whooky, gaan in die toekoms nog baie vir haar beteken omdat daar spesiaal gereël is dat hy saam met haar Kanada toe gaan.

“Ek het my in ’n stadium van alles en almal onttrek omdat ek nie moeite vir ander mense wou wees nie. Ek het baie depressief geraak toe ek so alleen was.

“Die wonderlike ding van Whooky is dat hy my aanvaar soos ek is. Hy vertroos my emosioneel,” sê sy.

Botha sê sy het al gewonder of sy nie moet settle om ’n introvert te wees nie.

“Ek was voor die rooftog ’n ekstrovert, maar jou lewe verander wanneer jy afhanklik is en in ’n rolstoel sit.”

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2500628,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.