Wednesday, 29 April 2009

Hof hoor hoe 80-jarige vrou verkrag, geslaan, gewurg is

Apr 28 2009 08:09:35:527PM - (SA)

Amanda Roestoff

“Ou vrou, vandag maak ek jou dood!”

Só het ’n verkragter (19) glo ’n Magaliesburgse vrou (80) toegesnou terwyl hy homself langs haar bed in haar plaashuis in Seekoeihoek tuisgemaak het met ’n nylontou, ’n hamer en ’n mes.

Insp. Rupert van Zyl, ondersoekbeampte, het gister voor landdros Keith Page in die Krugersdorpse streekhof ter strafverswaring getuig hoe Alfred Lubelo, die verkragter, sy slagoffer op 14 Januarie met ’n hamer en ’n graaf geslaan en met ’n elektriese koord probeer wurg het.

Lubelo het verlede maand skuld beken op aanklagte van huisbraak en roof met verswarende omstandighede en drie aanklagte van verkragting.

Die vrou het ’n boek gelees in die bed toe sy in die plaashuis, waar sy alleen woon, oorval is.

Toe sy Lubelo gewaar, het hy haar met die dood gedreig en kru taal gebruik om aan te dui dat hy seks met haar wou hê.

Lubelo het haar een been en arm aan die bed vasgemaak voordat hy haar slaapbroekie met ’n mes oopgesny het. Hy het homself aan die vrou ontbloot en haar toe verkrag.

Sy het haarself later losgesny met van die messe en skêre wat in die vertrek rondgegooi is toe sy Lubelo kombuis toe gestuur het om vir haar water te gaan haal. Sy het haarself in haar naaldwerkkamer gaan toesluit, het Van Zyl getuig.

“Hy (Lubelo) het vreeslik kwaad geraak en die deur met ’n hamer stukkend geslaan,” het die polisieman vertel.

Die vrou is teruggesleep na die slaapkamer en handeviervoet op die grond gedwing voordat sy ’n tweede keer verkrag is.

Lubelo het haar selfoon en juweliersware gebuit voordat hy probeer het om met haar voertuig te vlug.

Die voertuig kon egter nie ry nie omdat Lubelo die immobiliseerder uitgeruk het.

’n Elektriese koord is ook in ’n stadium om haar nek gedraai om haar te wurg.

“Sy het haar vingers tussen die elektriese koord en haar nek ingekry om te keer dat hy haar wurg. Dis nadat hy haar met ’n graaf ook geslaan het,” het die inspekteur getuig.

Dit is nie uit sy getuienis duidelik presies wanneer die vrou die derde keer verkrag is nie.

Speurders van die Magaliesburg-polisiekantoor het Lubelo enkele dae ná die grusame aanval in ’n straat in Krugersdorp-Wes gekry nadat hy van ’n gesigsamestellingskets uitgeken is.

Die saak is tot 28 Mei uitgestel vir die aanhoor van verdere getuienis met die oog op vonnisoplegging.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2508321,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.