Saturday, 25 April 2009

‘Hulle was geskok dat ons terugveg’

Tienersussies pak kaperbende. Juané Grobler by haar suster, Nicci (regs), in die hospitaal. Foto: Gloria Edwards

Apr 24 2009 09:32:09:277PM - (SA)

Gloria Edwards

Vier boewe het hul rieme styfgeloop toe hulle hulle tydens ’n kaping aan die Oos-Rand in twee tienersussies vasgeloop het.

Nicci Grobler (17), verlede jaar se nasionale o.17-kampioen in die Brasiliaanse jiu jitsu-gevegskuns, en haar suster, Juané (16), wat ook dié sport beoefen, het hul kapers op stemdag “ ’n behoorlike pak slae gegee” toe hulle en drie vriendinne in Germiston oorval en Nicci se motor gekaap is.

Nicci se neus is op drie plekke gebreek en sy het ander beserings opgedoen nadat sy haar vriendin, wat saam met die kapers in die motor was toe hulle wegjaag, probeer red het en sowat 300 m ver saam met haar Ford Fiesta gesleep is.

Die boewe het die vriendin uiteindelik uit die motor gestamp en daarmee gevlug.

Die polisie het die Fiesta eergisteraand ongeskonde in Ka-tlehong teruggevind. Dit het ’n opsporingstoestel ingehad.

Die Grobler-susters het gister in die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton vertel hoe hulle saam met me. Marlecia Marais (18) en die tweeling Simone en Estie de Kock (16) omstreeks 07:30 buite ’n vriend se huis in Tweedestraat, Lambton, oorval is.

“Ons was op pad na ’n Boksburgse klub. Nicci het vir my die bestuurdersitplek opgelig sodat ons kon uitklim. ’n Man het sy kop skielik onder haar arm ingedruk. Ek het hom in die gesig gepot,” het Juané gesê.

Marais en Simone het by die passasierskant uitgespring en om hulp geskree.

Drie van die mans het Nicci, wat die motorsleutels in haar hand gehou het, toe aangeval. Hulle het egter nie verwag sy sal terugveg nie.

“Hulle het my hande gegryp, maar ek het geskop soos ek geleer is,” het Nicci vertel. Sy en Juané het aangehou stoei en geskree dat die mans hulle moet “uitlos” en “weggaan”.

“Hulle was geskok dat ons terugveg,” het die meisies gelag.

Een aanvaller het toe ’n pistool uitgehaal. “Hulle het die sleutels gevat en in die motor gespring. Estie was nog agter-in,” het Juané vertel.

Nicci het toe by die oop venster aan die bestuurderskant ingeduik, haar bolyf binne en onderlyf buite.

“Sy het die bestuurder in ’n chokehold gekry en die sleutels probeer gryp, maar die boef het haar hande vasgehou en begin wegjaag,” het Juané vertel.

Sy moes toekyk hoe haar suster met die pistool oor die kop geslaan en saamgesleep word, voordat sy uitgeval het.

“Al waaraan ek kon dink, is dat ek my motor en vriendin wou beskerm,” het Nicci gesê.

Estie is ’n ent verder uitgestamp.

Mev. Mel Grobler het gesê haar kinders is “streetwise grootgemaak.”

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2506851,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.