Saturday, 25 April 2009

Man ernstig in rug gewond toe ‘rowers’ op hom losbrand

Apr 24 2009 08:50:13:930PM - (SA)

Herman Scholtz

’n Man van Centurion is ernstig gewond toe hy vermoedelik deur rowers raak geskiet is terwyl hy na sy bakkie gestap het wat in sy oprit geluier het.

Mnr. Leon Steenkamp, in sy laat 40’s, was gister nog swaar verdoof in die Zuid-Afrikaanse hospitaal in Pretoria nadat hy in die rug geskiet is.

Me. Ché Gething, trauma-eenheidsbestuurder by dié hospitaal, het gesê hulle het Steenkamp eers in die waakeenheid laat opneem om seker te maak dit sal veilig wees om hom te opereer.

Die koeël het hom in die lae rug getref.

Steenkamp het gisteroggend omstreeks 05:00 na sy Ford-bakkie voor die huis geloop en dié laat luier om warm te word.

Volgens kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het rowers toegang verkry tot die erf, wat met hoë mure en elektriese omheinings beveilig is, deur die hek oop te dwing.

Sy vrou, Angelique, het by die voordeur gestaan en alarm gemaak toe sy die rowers gewaar het.

Die rowers het daarna gevlug.

Mnr. Leon Swart, die Steenkamps se buurman in The Reeds, Rooihuiskraal, het aan Beeld gesê die honde het reeds van 03:00 af geblaf.

“Die honde was die hele oggend onrustig en ek het kort-kort deur die venster gekyk om te sien wat aangaan.

“Toe hoor ek ’n skoot en ’n gil.”

Die Swart-gesin het die paramedici ontbied wat Steenkamp gestabiliseer en na ’n hospitaal geneem het.

Huma het gesê niks is tydens die skietvoorval gesteel nie en die polisie ondersoek ’n klag van poging tot moord.

Niemand is nog weens die voorval aangekeer nie.

Die polisie is nie seker na hoeveel verdagtes hulle soek nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2506833,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.