Tuesday, 14 April 2009

Pa net voor naweek weg ‘tereggestel’

Mnr. Jaco en mev. Belinda Schrader van Proteahoogte,  Brackenfell, met hul dogtertjie, Saskia (18maande).

11/04/2009 20:51 - (SA)

Julian Jansen

Brackenfell

‘Jaco was ’n held. Mý held. Hy het sonder om te dink my gewapende aanvaller omgeduik.”

Me. Belinda Schrader (30) veg teen die trane terwyl sy vertel hoe dié aanvaller Donderdagaand haar man se lewe met ’n soort “teregstelling”-skoot beëindig het.

Dié 36-jarige pa van ’n 18 maande oue dogtertjie, Saskia, en sy vrou was besig om hul bakkie en sleepwaentjie te laai vir hul jaarlikse Paas-wegbreek.

Haar man het verskriklik uitgesien na hul naweek weg saam met vyf ander egpare na die Skurwekop-woonwapark in Robertson, sê Schrader.

“Nadat Jaco die waentjie gepak het, het hy na die slaapkamer gegaan. Ek was in die kombuis besig toe daar skielik ’n man inkom.

“Ek het hom verbaas gevra wat hy soek. Hy het net geglimlag en na my toe gestap.

“Hy was lank en skraal en het ’n jean en ’n ligblou fleece-top aangehad. Sy oë was so half ingesink.

“Hy het ’n vuurwapen uitgehaal en nog daarmee gesukkel. Wat vir my vreesaanjaend was, was dat hy niks gevra het nie en nie ’n woord gepraat het nie.”

Schrader het platgeval en vir haar man geskree. Hy het die gewapende man platgeduik. ’n Worsteling het ontstaan en nog iemand het by die vertrek ingekom. ’n Skoot het geklap. ’n Tweede skoot het haar man getref.

Maar dit was die derde skoot, sê Schrader, wat haar geruk het: “Die man het bo-oor Jaco gaan staan en hom geskiet. Toe weet ek in my hart dis die finale skoot.

“Ek het na die slaapkamer gehardloop en doelbewus nie in die kamer gaan wegkruip waar Saskia geslaap het nie. Anders sou hulle haar ook kon seermaak.”

Schrader het die paniekknoppie van die alarmstelsel gedruk en deur die venster na haar bure geroep.

“Ek het later teruggegaan kombuis toe en Jaco op die grond aangetref. Ek het noodbehandeling op hom begin toepas. Hy het so gesukkel om asem te kry. Ek kon hoor hy probeer iets sê.”

Van haar bure het ook kom help totdat die ambulans opgedaag het.

“Ná ’n ruk kon ek sien dit was verby. Hulle het vir my gesê sy longe was te vol bloed.”

’n Buurvrou het gesien hoe die aanvallers in ’n donkerblou Audi A3 vlug.

Mnr. Schrader was ’n projekbestuurder in die parke-afdeling van die Kaapstadse munisipaliteit.”Volgens sy pa, mnr. Hennie Schrader, is die familie platgeslaan.

Gister het me. Helen Zille, burgemeester van Kaapstad, haar skok uitgespreek.

“Dit is ’n absoluut tragiese voorval. Mnr. Schrader was ’n staatmaker in ons span en sy dood is ’n verlies vir sy gesin en die stad. Ons moet regtig opstaan teen dié geweld.”

Volgens sr. supt. Billy Jones is die verdagtes nog op vrye voet.

Oorsprong:Rapport
http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2500075,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.