Thursday, 30 April 2009

Rowers sny skaapboer se keel af

Apr 29 2009 08:31:49:803PM - (SA)

Jana Engelbrecht

Sutherland. – ’n 71-jarige merino-boer se keel is eergisteraand in sy huis op die plaas Keerom afgesny.

Vier verdagtes is gister op die dorp aangekeer.

Mnr. Klaas van Wyk se buurvrou, me. Elsa van der Merwe, het gisteroggend vroeg op sy omgeslane bakkie op die grondpad tussen die dorp en die plaas afgekom. Sy het haar man, Witjan, gebel en hy is na die plaashuis.

“Die deure was oop,” het hy gesê. “Die ligte het gebrand. Die kluis is uit die muur geruk. Die hele huis was deurmekaar. Daar was bloed oral.”

Van der Merwe het na die kombuis gegaan en na Van Wyk geroep. “Daar was geen antwoord nie. Ek het hom toe in sy kamer op die bed gekry.”

Van Wyk is vermoedelik in die voorportaal vermoor en na sy slaapkamer gesleep.

“Dit lyk of daar ’n klomp steke in sy bolyf is. Bo sy heup was ook ’n steekplek wat hy moontlik met ’n plastieksakkie probeer toedruk het.”

Dit was die wreedste toneel wat hy in sy lewe aanskou het, het Van der Merwe gesê.

“Van Wyk was ’n vredeliewende mens. Hy het niemand aanstoot gegee nie. Hy was ’n oujongkêrel. Ek meen hy was ’n sagte teiken.”

Van der Merwe het gesê hy “wil nie eens weet” wat die moord op ’n onskuldige man aan toerisme op die dorp gaan doen nie.

Supt. Hendrik Swart, polisiewoordvoerder, het gesê vier mans is Woensdag in verband met die moord in hegtenis geneem.

Plaaswerkers wat op Van Wyk se plaas bly, het Dinsdag omstreeks 21:00 ’n gelag van die plaashuis gehoor.

“Dit was vermoedelik die tyd toe die verdagtes die plaashuis besoek en die misdaad gepleeg het.”

Die moordenaars het glo werkers op ’n ander plaas besoek. Hulle was na bewering besope.

Mnr. Wessel van der Merwe, voorsitter van Agri Noord-Kaap en Witjan se broer, het versoek dat die verdagtes geen borgtog kry nie.

“Ons sal ’n versoekskrif aan die polisie hier oorhandig wat op die maksimum straf vir die misdaad aandring. Sulke gevalle knou die landbou in die Noord-Kaap.

“Ons as landbougemeenskap is uiters kwesbaar gelaat met die groot vakuum wat heers nadat die kommandostelsel uitgefaseer en ’n ondoeltreffende polisiereservistestelsel ingestel is.”

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2508943,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.