Saturday, 4 April 2009

Toetssaak oor ras kom

Apr 01 2009 09:14:49:497PM - (SA)

Jan de Lange

Die belangrikste toetssaak nóg oor regstellende aksie begin eersdaags in die arbeidshof.

Die regering se klem op rasgegronde verteenwoordigendheid in werkplekke het volgens hofstukke in dié saak daartoe gelei dat Suid-Afrikaanse Polisiediens poste vir senior forensiese wetenskaplikes liewer vakant laat bly as om wit wetenskaplikes daarin aan te stel.

Die hofsaak sloer reeds sedert November 2004 toe die vier wetenskaplikes, majj. Lionel de Jager, Corlett van Ham, Hannes Geustyn en H. Ueckermann se aansoeke om bevordering van die hand gewys is omdat hulle wit is. Alle voorbereidsels vir die ingewikkelde saak is nou afgehandel en daar word nog net op ’n hofdatum gewag. Die verhoor sal sowat vyf dae duur.

Twee van die wetenskaplikes, Ueckermann en Van Ham, is vroue en volgens die Wet op Gelyke Indiensneming ook geregtig op voorkeurbehandeling kragtens dié wet.

Van Ham is boonop deur die ongevallekommissaris tot gedeeltelik gestremd verklaar weens asma, wat nog meer rede is waarom sy nie deur regstellende aksie benadeel mag word nie. Sy het dit opgedoen weens kontak met vreemde stowwe in haar werk.

Ueckermann, ’n forensiese ontleder met tien jaar ervaring wat ’n M.Sc-graad in toegepaste mineralogie aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het Suid-Afrika onlangs verlaat weens die perke op haar loopbaangeleenthede in Suid-Afrika. Sy was aanvanklik een van die aansoekers, maar het haar nou onttrek.

De Jager het ’n M.Sc-graad in chemie met 12 jaar ervaring in fisiese en chemiese ontleding. Van Ham het ’n B.Sc. Honneursgraad in chemie met sewe jaar ervaring as ontleder in die forensiese laboratoriums en Geustyn het ’n B. Tech-graad in forensiese ondersoeke.

Volgens die hofstukke is vier senior forensiese ontledersposte, vir spesialiswerk in edelmetale en smeltprosesse, vir element-spoorontledings, vir element-profiel ontleding en vir gehalte en beroepsveiligheid in September 2004 in die SAPD se forensiese laboratoriums geadverteer.

Al vier het vir die poste aansoek gedoen.

Die enigste ander aansoekers was ’n inspekteur Mowela en ’n inspekteur Mabala. Hulle het albei net vir die spesialispos in edelmetale en smeltprosesse aansoek gedoen.

Op 9 November 2004 is al vier die wit aansoekers in kennis gestel dat hulle aansoeke misluk het omdat geen wit kandidate vir die poste oorweeg is nie. Mowela en Mabala is wel bevorder, maar in poste waarvoor hulle nie aansoek gedoen het nie.

Die ander twee poste is steeds vakant. Die spesialisvaardighede wat vir dié poste vereis word, is só skaars dat waarskynlik nooit moontlik gaan wees om demografiese verteenwoordiging daarin te bereik nie, het mnr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit wat die saak namens die drie wetenskaplikes voer, gister gesê.

Volgens hom is dit algemene kennis dat die SAPD ’n tekort aan forensiese kundigheid het en selfs sukkel met skuldigbevindings in howe weens forensiese probleme.

“Die SAPD ondermyn dus liewer sy eie doeltreffendheid deur senior poste vakant te laat bly ter wille van ’n rasgedrewe ideologie waaraan selfs meer waarde geheg word as aan dienslewering.

“In ons misdaadomgewing is dit onverantwoordelikheid wat in die hof aangeval moet word,” het Hermann gesê.

Volgens hom word dit wyd in werkplekke gedoen. “As die saak slaag, behoort dit regstellende aksie ’n nuwe rigting laat inslaan – weg van rasgedrewe verteenwoordiging na dienslewering,” het hy gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2495380,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.