Saturday, 4 April 2009

Val werkgewer met graaf aan in huis

Apr 02 2009 10:03:45:393PM - (SA)

Sonja van Buul

Vereeniging. – “Ek is hier om jou dood te maak.”

Só het ’n man eergisteraand aan mnr. Japie Flynn (57) gesê tydens ’n nagmerrie-aanval waar hy diep kapwonde aan onder meer sy kop opgedoen het, het Flynn se seun, Franscha, gister gesê.

Flynn en sy vrou, Ria (60), van die Homelands-kleinhoewes buite Vereeniging is aangeval terwyl hulle televisie gekyk het. Die aanvaller is vermoedelik ’n werknemer.

Die veiligheidsbewuste sakeman, wat ’n vervoermaatskappy vanaf sy kleinhoewe bedryf, is in die gang deur die aanvaller met ’n graaf verras. Flynn was op pad na sy kluis om ’n wapen te gaan haal.

Hy het ook snywonde aan sy hand en een been opgedoen.

“Die honde het, volgens my ouers, geblaf en my pa het by die venster uitgekyk om te sien of sy vragmotors veilig is toe hulle die hoofslaapkamer se venster hoor breek,” het Flynn jr. op die toneel gesê.

Dis toe dat hy die wapen wou gaan haal.

“Die aanvaller het gevlug, maar teruggeklim deur die gebreekte venster om die graaf te kom haal terwyl my pa ’n vuurwapen uit die kluis gehaal het.

“Ek vermoed dis my pa se graaf, want die man het hier gewerk en geweet waar alles is.”

Flynn sr. het volgens sy seun uit vrees drie skote in die grasperk afgevuur toe die man ’n tweede keer gevlug het.

“My ma is nie beseer nie, maar erg geskok ná die voorval. Sy het tydens die struweling die gangdeur toegedruk en deur ’n agterdeur na buite gevlug,” het Flynn jr. gesê.

Paramedici van ER24 het Flynn sr. na die Midvaal-hospitaal in Drie Riviere geneem vir behandeling. Hy is gisteroggend uit die hospitaal ontslaan en sterk aan by die huis.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2496053,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.