Wednesday, 1 April 2009

‘Versteurde’ moor 2 boere

Mar 31 2009 07:44:43:567PM - (SA)

Vierfontein. – ’n Jong man wat moontlik “versteurd” is, is gisteroggend hier in hegtenis geneem nadat hy ná ’n moordorgie die verminkte lyke van twee boere op twee buurplase in die distrik agtergelaat het.

Dié 25-jarige Lesotho-burger, geklee in net sy onderbroek en hemp, is op die tweede moordtoneel in hegtenis geneem waar hy by die verminkte lyk van mnr. Jan van Wyk (82) besig was om ewe tuis die stoep te vee en kos te maak.

Lede van Vrystaat-landboubeveiliging, ’n veiligheidsfirma vir boere, het hom in hegtenis geneem. Van Wyk is vermoor enkele ure nadat mnr. Basie Venter (65) eergisteraand voor sy vrou met ’n hoekyster doodgeslaan is.

Een van die vermeende moordwapens en bebloede kraletjies is in landerye langs ’n leeukamp by Venter se huis begrawe gekry. Die skoene wat die moordenaar van Venter gesteel het, het hy glo elders begrawe.

Mev. Mary Venter (68) het omstreeks 21:15 hulpeloos deur die venster toegekyk hoe die houe buite op haar man neerreën. Sy het kennisse om hulp gebel, wat op hul beurt die polisie gebel het.

Hierna het die moordenaar in die middernagtelike ure verby twee plase na Van Wyk, ’n oud-polisieman wat net in die week alleen op die plaas gebly het, se huis gesluip. Van Wyk is na bewering na buite gelok waar hy met ’n graaf oor die kop geslaan is. Sy bewustelose liggaam is die huis ingesleep en daarna vermink. Mnr. Johan Engelbrecht van Vrystaat Landbouveiligheid was besig om Venter se moord te ondersoek toe ’n boer hom in die pad voorkeer en sê hy vermoed onraad by Van Wyk se plaas.

Van Wyk het nie soos gewoonlik vroegoggend op sy stoep gesit en Bybel lees nie.

Engelbrecht sê by sy aankoms op Van Wyk se plaas het hy die verdagte op die stoep gekry, waar hy besig was om die stoep te vee. “Toe hy my sien, het hy die huis ingehardloop en die deur agter hom toegeslaan.”

Binne die huis het die man met ’n snoeiskêr op Engelbrecht gewag. Hy (Engelbrecht) kon daarin slaag om die man te oorrompel en hom te boei. – Tom de Wet en Marisa Phillips

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2494684,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.