Tuesday, 14 April 2009

Vier gearresteer nadat egpaar op hoewe vermoor word

Apr 12 2009 10:26:10:097PM - (SA)

Hilda Fourie

Vier mans wat vermoedelik betrokke was by die gru-moord Goeie Vrydag op ’n egpaar van die Mooiplaats-kleinhoewes, oos van Pretoria, is net meer as ’n dag ná die moord vasgetrek.

Mnr. Johannes Jaftha, polisiewoordvoerder, het gesê die vier is nog nie van die moord op mnr. Johan van der Bosch (63) en sy vrou, Cobi (60), aangekla nie.

Hulle is eergister op ’n kleinhoewe naby die egpaar se kleinhoewe gearresteer en word ondervra om te bepaal of hulle met die moorde verbind kan word, het Jaftha gesê. “ ’n Mes is in hul besit gevind wat hulle met die toneel kan verbind. Die ondersoek is in ’n baie sensitiewe stadium.”

Volgens Jaftha is mnr. Van der Bosch Vrydag tussen 04:00 en 05:00 na die stalle om koeie te melk. Hy is vermoedelik by die staldeur aangeval en met ’n swaar voorwerp oor die kop geslaan. “Sy vrou is in die huis dood gevind by die deur na die agterplaas. Sy het verskeie steekwonde aan haar bolyf gehad.”

Volgens Jaftha is slegs twee selfone, ’n bos huissleutels en ’n knipmes wat mnr. Van der Bosch altyd by hom gedra het, weg.

Mnr. Ben Marais, president van TLU SA, het in ’n verklaring gesê daar kan nie van mense verwag word om te glo twee “weerlose bejaardes is op die barbaarste wyse denkbaar vermoor net om ’n selfoon in die hande te kry nie”.

Hy meen daar sit meer as misdaad agter dié aanval en dat plaasmoorde en die “werklike motief daaragter” weer ondersoek moet word.

Mnr. Wim van der Bosch wou nie gister oor die moord op sy ouers praat nie. Die egpaar laat 12 kinders en 29 kleinkinders agter.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2500386,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.