Tuesday, 14 April 2009

Vier kan nie betrek word by moord op Mooiplaats-egpaar

Apr 13 2009 07:22:13:697PM - (SA)

Die vier mans wat ’n dag ná die moord op ’n egpaar van die Mooiplaats-kleinhoewes, oos van Pretoria, vasgetrek is, kan nie met die moorde verbind word nie.

Mnr. Johannes Jaftha, polisiewoordvoerder, het gister gesê ná ondervraging van die mans is bevind dat hulle nie betrokke kon wees by die moorde op mnr. Johan van der Bosch (63) en sy vrou, Cobi (60), nie.

Die Van der Bosch-egpaar is op Goeie Vrydag vermoor.

Mnr. Van der Bosch het tussen 04:00 en 05:00 na die stalle gegaan om koeie te melk. Hy is vermoedelik by die staldeur aangeval en met ’n swaar voorwerp oor die kop geslaan.

Mev. Van der Bosch is in die huis dood gevind by die deur na die agterplaas. Sy het verskeie steekwonde oor haar bolyf gehad.

Twee selfone, ’n bos huissleutels en ’n knipmes wat mnr. Van der Bosch altyd by hom gedra het, is weg.

Vier mans is net meer as ’n dag ná die moorde in hegtenis geneem op ’n klag van poging tot moord weens ’n ander voorval.

’n Mes is in hul besit gevind wat hulle moontlik met die moord op die Van der Bosch-egpaar kon verbind.

Volgens Jaftha gaan die ondersoek na die Van der Bosch-egpaar se moordenaars voort en word nog leidrade opgevolg. – Hilda Fourie

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2500625,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.