Saturday, 2 May 2009

Bejaarde dogter en ma oorval

Apr 30 2009 11:29:00:800AM - (SA)

Alta Snyman

Mooinooi. – ’n Rustige aand van televisie kyk het vir ’n bejaarde ma en dogter wat op ’n plaas in die distrik bly in geweld geëindig.

Mev. Anna Verster* (66) en haar 87-jarige ma, mev. Ina Muller*, albei weduwees, is verlede Maandag kort ná 20:00 aangeval. Verster het in die sitkamer na 50/50 gekyk terwyl Muller in haar kamer, ironies genoeg, Law and Order gekyk het.

“Die honde was in die huis en het verskriklik begin blaf. Toe ek opkyk het twee mans in die gangdeur gestaan. Hulle het vuurwapens in hul hande gehad.

“Ek het gevra wat hulle soek en hulle het die hele tyd gesê: ‘Be quiet, be quiet.’

“Die honde het vreemd opgetree. Hulle is redelik aggressief, maar daardie aand het hulle niemand gebyt nie,” sê Verster. “Alles was vir my ’n blank. Dit het deur my kop gemaal dat ek moet doen wat hulle sê.”

Haar ma, wat vanweë haar ouderdom moeilik beweeg, het kom kyk wat aan die gang is. Sy het op ’n stoel gaan sit, maar die mans het haar op die grond gegooi en haar geskop. “Sy het die hele tyd kliphard gebid.”

Die mans het Verster eers met ’n baadjie probeer vasmaak en het daarna bandjies van klere afgesny om hulle daarmee vas te maak. “Ek het dit met my tande begin losmaak, maar hulle het my gesien en my kop teen die teëlvloer gestamp. Hulle het my toe nog stywer vasgemaak.”

Die rowers het twee makkers gehad wat buite sig gebly en die huis deurgesoek het. Hulle het elektriese ware, selfone en die motor en die bakkie se sleutels gevat, maar net met die motor gevlug. Dit is die volgende dag verlate by die Sekulane School gekry.

Toe alles stil raak, het Verster op haar maag tot by die paniekknoppie geseil, haar teen die muur opgewikkel om dit te druk en kamer toe geseil om ’n mes te kry. “My ma het haar al effens losgewikkel en sy kon my hande lossny. Gelukkig het iets bo-op die telefoon gelê sodat die rowers dit nie gesien het nie en ek kon toe die polisie bel.”

Die vroue sê Extrasec, ’n veiligheidsmaatskappy, mnr. Louis van Wyk van BurgB (burgerband-radio) en die polisie was binne 15 minute op die toneel.

“Die polisie was baie behulpsaam en het regtig moeite gedoen.”

Daar was geen dokter beskikbaar nie om Muller, wat ’n hartlyer is, te behandel. Die plaaslike veearts, dr. Magiel van Wyk, het by haar gesit nadat sy ’n hartpil gedrink het.

Die polisie het die voorval bevestig.

*Die vroue se name is op versoek verander.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Noordwes-Beeld/0,,3-2184_2509269,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.