Sunday, 7 June 2009

Dapper man gryp rower se pistool en skiet terug

Jun 04 2009 10:22:10:850PM - (SA)

’n Dapper man wat ’n rower se vuurwapen, ’n polisiepistool, gegryp en toe op hom en sy makkers geskiet het, het moontlik familielede se lewens tydens ’n braai in Limpopo gered.

Die rowers het nóg ’n man, mnr. Willie Bonnema (54), in die regterboarm gewond.

Bonnema en sy vrou, Linda, het Dinsdagaand saam met sy suster en swaer, mev. Rina en mnr. John Peake, op die Peakes se hoewe by Toitskraal, naby Marble Hall, gebraai.

Die Peakes sou gisteroggend vir ’n week na die Krugerwildtuin gaan. “Die boewe het uit ’n bos gestap gekom en ons beveel om geen bewegings te maak nie,” het mev. Bonnema vertel.

“My skoonsuster se seun, mnr. Willem Peake (33), het met hulle geveg totdat hy daarin kon slaag om een van hulle se vuurwapen te gryp.

“Die boewe het kort daarna die hasepad gekies toe Peake hulle met hul eie vuurwapen geskiet het, maar een van hulle het skote begin afvuur, waartydens my man in die regterboarm getref is.”

Peake jr. het aangehou skiet.

Haar man het eergisteraand ’n operasie in die Montana-hospitaal in Pretoria ondergaan.

As dit nie vir Peake jr. se dapper optrede was nie, kon iets veel ergers dalk gebeur het, het mev. Bonnema gesê. – Daniel Maluleke

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2526786,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.