Thursday, 4 June 2009

Dit was glo tweede rooftog in twee dae

Mnr. Marius Potgieter

Jun 02 2009 10:23:06:630PM - (SA)

Daniëlla du Plooy

’n Dag voordat mnr. Marius Potgieter in ’n veiligheidskompleks in Weltevredenpark, Roodepoort, doodgeskiet is, is ’n vrou by dié kompleks glo ook oorval en met ’n geweer aangehou.

Potgieter (33) is Vrydag tydens ’n rooftog doodgeskiet. Hy is voor sy stiefdogter, me. Sherrie Hulley (20), haar kêrel, mnr. Chrizaan van der Merwe (23), en Chrizaan se ma, me. Rita van der Merwe (45), in die woonstel geskiet.

Die moordenaar het met ’n vuurwapen, kontant en twee selfone weggekom.

Volgens mnr. Philip Vorster, me. Van der Merwe se vriend, was sy laatmiddag besig om die woonstel te ontruim.

“Rita het ’n woonstel in die kompleks, Devon Valley 2, gehuur en was besig om haar besittings in haar motor te laai, want sy sou by my kom intrek. Toe sy by die woonstel in is, het ’n man by die deur ingekom.”

Hy het glo heeltyd gevra waar Van der Merwe se skootrekenaar is. Toe sy sê sy het dit reeds in die motor gelaai, het hy haar met draad vasgebind en op die grond laat lê. Hy het geld en selfone gevat.

Volgens Hulley het sy, mnr. Van der Merwe en Potgieter in dié stadium niksvermoedend by die woonstel opgedaag.

“Die rower het die twee mans ook vasgebind. My stiefpa, wat in die veiligheidsbedryf gewerk het, het ’n geweer by hom gehad. Hy het die rower probeer keer – vermoedelik omdat hy my nie vasgebind het nie en Marius bang was hy sou my seermaak.”

’n Struweling het tussen die twee mans ontstaan en die rower het Potgieter met sy (die rower se) geweer geskiet. Die koeël is deur sy lyf.

“Ek het buitentoe gehardloop, om hulp geroep en die motor se toeter begin druk,” het Hulley gesê. “Die rower het buitentoe gekom, maar toe hy my sien, het hy oor die heining gespring.”

Me. Van der Merwe het Vorster gebel, wat hom dadelik daarheen gehaas het.

“Ek het die polisie probeer bel, maar die 10111-noodnommer het glad nie gewerk nie,” het Vorster gesê.

“Ons het onlangs ook by ’n buurvrou verneem sy is ’n dag vantevore beroof en met ’n geweer aangehou. Dit was vermoedelik dieselfde rower.”

Potgieter is in die hart geskiet en vyf minute later op die toneel dood. ’n Saak van moord en gewapende roof is by die Honeydew-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Niemand is nog aangekeer nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2525801,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.