Sunday, 28 June 2009

'Ek is besig om te sterf'

Jun 24 2009 05:33:52:570AM - (SA)

Sonja van Buul

Vanderbijlpark. – “Hulle het my geskiet. Ek is besig om dood te gaan.”

So het ’n man van die Ro-sashof-kleinhoewes hier gisteraand aan sy vrou gesê kort nadat rowers hulle by hul snoepwinkel oorval en hom geskiet het.

Mnr. Eben Coetzee (57) en sy vrou, Suretta (45), het pas hul winkel gesluit om huis toe te gaan toe die rowers toegeslaan het. Die egpaar, voorheen van Mooinooi in Noordwes, woon die afgelope drie jaar in die Vaaldriehoek.

“Die twee rowers het gesê ek moet oopsluit, maar ek het gesê ek sal nie,” het die erg geskokte vrou gisteraand op die toneel gesê.

Volgens mev. Coetzee wou sy tyd wen en is toe met ’n vuurwapen oor die kop geslaan.

“Ek het gedink dit sal my man kans gee om hulle te skiet, want hy het ons vuurwapen by hom gehad.”

Sy het sy skote gehoor, maar haar man daarna op die grond gesien lê.

Die rowers het met net mnr. Coetzee se vuurwapen weggehardloop.

“Hulle het ewe skielik net so verdwyn.”

Mev. Coetzee het die hulp van mnr. Hilgard Berg, die opsigter van die winkelgebou wat hulle huur, ingeroep.

“Ek was in die huis langs die snoepwinkel op die kleinhoewe, maar het nie die skote gehoor nie,” het Berg gesê.

“Ek het wel geweet hier is moeilikheid toe Suretta sê Eben is geskiet.”

Hy het na die snoepwinkel gehardloop, mnr. Coetzee se gesig met ’n nat lap afgevee en hom moed ingepraat.

“Hy het nog gelewe, maar is dood terwyl ons met hom gepraat het.”

Mev. Coetzee het haar man gevra om haar hand te druk as hy haar kan hoor.

“Maar hy het net vir my gekyk en toe is hy dood.”

Dis volgens mev. Coetzee se broer, mnr. Abrie Hanekom van Vanderbijlpark, die tweede keer dat rowers by die snoepwinkel op die egpaar toegeslaan het.

“Hulle is in April ook beroof. Hulle is toe net vasgebind en nou dít.”

Die polisie sal volgens insp. Aubrey Moopeloa, woordvoerder, tydens die nadoodse ondersoek vasstel of mnr. Coetzee met sy eie of ’n ander vuurwapen doodgeskiet is.

“Ons ondersoek die moord en rooftog,” het Moopeloa gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2532461,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.