Sunday, 21 June 2009

‘Ek is hier om jou te verkrag’

Mev. Ohna Strauss en haar man, Jaco, is eergisteraand in hul huis beroof. (Foto: Alet Pretorius)

Jun 18 2009 09:56:10:197PM - (SA)

Daniel Maluleke

"Julle wit mense lewe so lekker hier, terwyl ons swart mense daar buite sukkel.”

So het een van die vyf mans wat eergister ’n egpaar in hul nuwe huis in die luukse veiligheidslandgoed by die Roodeplaatdam by Kameelfontein, oos van Pretoria, beroof het, aan sy slagoffers gesê.

Die vyf het eergister in die vroeë oggendure by mnr. Jaco (33) en me. Ohna Strauss (27) se huis in Sable Hills Waterfront Estate toegeslaan. Een van hulle het ’n vuurwapen gehad, een ’n bobbejaansleutel en ’n derde ’n koevoet.

“Een van hulle het na my toe gekom en gesê: ‘Ek is hier om jou te verkrag’, en het meteens sy hand in my klere ingedruk,” het me. Strauss gister huilend vertel.

Sy het gesê een van die boewe het vir ’n ander een gesê die baba (die Strausse se 14 maande oue dogtertjie, Anni) gaan huil en hy moet haar ’n bottel gee. Dit het een van die rowers wel gedoen terwyl sy makkers die egpaar vasgebind het.

Die booswigte wou by mnr. Strauss weet waar sy vuurwapen en skootrekenaar is.

Toe hy sê hy het nie sulke goed nie, het hulle die egpaar van vertrek na vertrek aan hul hare rondgesleep en waardevolle items en klere bymekaar gemaak sover hulle gegaan het. Hulle het onderklere in hul slagoffers se monde gedruk sodat hulle nie kon skree nie.

Die boewe het R1 000, juweliersware, onderklere, klere en ’n rekenaar wat waardevolle inligting van die egpaar bevat, gebuit.

Een het daarna sy eie tekkies en baadjie uitgetrek en van mnr. Strauss se klere aangetrek.

Die baba het in ’n stadium van die bed af geval en haar gesig in die proses teen ’n bedkassie gestamp. Sy het haar neus effens beseer.

Hulle het mnr. Strauss in die badkamer toegesluit voordat hulle sy sleutels gevat en gevlug het.

Nadat die rowers weg is, kon me. Strauss haar loswikkel en om hulp skree. Bure het hulle te hulp gesnel en die polisie is ook dadelik ontbied.

’n Buurman moes die badkamerdeur oopbreek om mnr. Strauss te bevry.

Volgens mnr. Strauss het hulle twee weke gelede in dié huis ingetrek.

“Ek is dankbaar dat ons nog lewe en dat hulle ons nie seergemaak nie,” het me. Strauss gesê.

Konst. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

Die polisie het beslag gelê op die klere wat een van die aanvallers agtergelaat het toe hy van mnr. Strauss se klere aangetrek het, en sal dit in hul ondersoek gebruik.

Die rowers het vermoedelik op die een of ander manier by ’n hoekpaal oor die elektriese heining geklim.

Mnr. Braam Fourie, veiligheidsbestuurder van die woonkompleks, het volstrek geweier om kommentaar oor die voorval te lewer. Hy het onderneem om vanoggend kommentaar te lewer as Beeld se verslaggewer kan bewys hy werk wel vir dié koerant.

Op die ontwikkelaars van die kompleks se webtuiste maak hulle ’n groot ophef van die premie wat hulle op veiligheid plaas.

“As ’n mens die toenemende misdaadsyfers in ag neem, is dit van die uiterste belang dat ons verseker is van die veiligheid van ons gesinne.

“Ons het derhalwe verseker dat die hele landgoed ’n veiligheidsheining het en dat toegang beheer is, met wagte 24 uur per dag by die ingangshek. Niemand kan sonder toestemming van die inwoners inkom nie,” lui die webwerf.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2530995,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.