Sunday, 28 June 2009

‘Ek soek jou’ – toe verkrag hy 2 keer


Mev. Santi Britz en haar man, Pieter, omhels mekaar buite die streekhof in Potchefstroom nadat haar verkragter lewenslank tronk toe gestuur is. Foto: Linda de Beer

Jun 24 2009 08:01:31:157PM - (SA)

Linda de Beer

Potchefstroom. – ’n Sakevrou van dié stad het gister hier in ’n oop hof emosioneel getuig hoe ’n sluipslaper haar in Januarie twee keer kort ná mekaar in haar slaapkamer verkrag het.

Mev. Santi Britz (48) het aanvanklik versoek om agter geslote deure teen Budi Modukaneng (26) te getuig, maar streeklanddros D.J. Nel het haar oortuig om in belang van die gemeenskap in ’n oop hof te getuig.

Haar “volledige en gedetailleerde” getuienis het eindelik tot Modukaneng se skuldigbevinding op albei aanklagte van verkragting gelei. Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Britz het op 21 Januarie nog geslaap toe Modukaneng haar omstreeks 07:00 in haar slaapkamer in die gesin se huis op die Bult oorval het.

Haar man, Pieter, saam met wie sy ’n eiendomsagentskap in Potchefstroom besit, was tydens die voorval in die hospitaal ná ’n operasie.

“Ek soek jou,” het Modukaneng vir Britz gesê toe sy geskree en gevra het wat hy in haar kamer doen.

“Hy het bo-op my gespring . . . Ons het begin stoei. Ek het verskriklik geskree en verskriklik gebaklei. Op die ou einde het ons op die vloer beland,” het Britz getuig.

Modukaneng, wat haweloos was en op enige plek in die stad geslaap het, het vir Britz vertel hoe hy haar vooraf dopgehou het. Hy het haar die eerste keer verkrag nadat haar kop ’n ysterbankie getref en sy ’n paar sekondes lank haar bewussyn verloor het.

Hierna het Modukaneng Britz gegryp en op die bed gegooi, waar hy haar onder meer beveel het om hom “oopmond” te soen. Sy het haar kop weggedraai, maar hy het hom op haar afgedwing. Sy is hierna wéér verkrag.

Modukaneng het skuldig gepleit op die eerste aanklag van verkragting, wat saamgeval het met ’n aanklag van huisbraak met die opset om te verkrag.

Hy het onskuldig gepleit op die tweede verkragtingsaanklag, met die verweer dat hy so gou as moontlik ná die eerste verkragting wou wegkom. Dit sou volgens sy getuienis ook nie vir hom fisiek moontlik wees om so gou weer ’n ereksie te kry nie.

Nel het dié getuienis verwerp.

Britz het toestemming gegee dat haar naam en foto gepubliseer word, omdat sy iets goeds uit haar ondervinding wil sien voortspruit.

“Ek gaan nie my pyn mors nie. Die Here het my tot nou hierdeur gehelp. Ek sal graag ander vroue (in soortgelyke omstandighede) wil help.”

Sy het gesê sy hoop die strawwe vonnis wat Modukaneng gekry het, sal voornemende verkragters afskrik.

’n Groep van Britz se vriendinne het gisteroggend buite die hof betoog.

Hulle is besig om ondersoek in te stel na moontlikhede om ander verkragtingslagoffers te help.

’n E-posadres, rapehelp@ gmail.com, is reeds geskep.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2532819,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.