Sunday, 21 June 2009

Ermelo-skool rassisties in taalbeleid, betoog LUR

Jun 18 2009 09:56:32:430PM - (SA)

Philip de Bruin

Die Hoërskool Ermelo en sy beheerliggaam se geveg om Afrikaans as onderrigtaal te behou is gegrond op vasbeslotenheid om vas te klou aan “Afrikaanse oorheersing in navolging van rasse-gebruike” van die verlede.

So betoog die LUR vir onderwys in Mpumalanga en die minister van onderwys in stukke wat gister by die konstitusionele hof ingedien is.

Hulle het in dié hof aansoek gedoen om te mag appelleer teen ’n bevel van die appèlhof dat ’n skool se beheerliggaam die reg het om die taalbeleid te bepaal en nie ’n LUR nie.

Die hofgevegte het ontstaan toe meer as 20 leerlinge wat in Engels onderrig wou word toegang tot die skool geweier is. Die LUR het ingegryp, ’n komitee saamgestel om namens die beheerliggaam ’n taalbeleid te bepaal en toe beveel dat die leerlinge toegelaat moet word en in Engels onderrig moet word.

Die appèlhof het bevind die LUR het sodoende onregmatig opgetree.

In die LUR en die minister se betooghoofde sê advv. B. Tokota SC, D. Skosa-na en Z.Z. Matebese die geforseerde situasie van Afrikaans as onderrigmedium in die skool het bestaan “sedert ’n mens kan onthou” en tot met die skole-onluste van 1976 voortgeduur.

“Die beheerliggaam van die skool probeer deur die beleid van Afrikaanse onderrig aan die Hoërskool Ermelo om dié oorheersing van Afrikaans te behou en om beter geriewe vir Afrikaanse leerlinge te reserveer ongeag die eise wat ’n veranderde samelewing stel.”

Die staat sal nooit sy grondwetlike plig om onderwys aan alle leerlinge te gee kan nakom as skole se beheerliggame toegelaat word om Afrikaans as eksklusiewe taal by sekere skole te behou nie. As skole die staat “frustreer” in sy pogings om sy grondwetlike pligte na te kom, het die staat – in hierdie geval die LUR – geen keuse nie as om in te gryp, lui die betooghoofde.

Die skool en sy beheerliggaam sal begin Julie betooghoofde indien.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2530968,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.