Friday, 19 June 2009

Gaan jy 'n ander se afgod dien?

Anton B 2009-06-08

Hier is 'n hipotetiese scenario. 'n Groep regses word aangekeer omdat hulle daarvan verdink word dat hulle sabotasie beplan. Daar is bewyse dat hulle hulp van 'n buitelandse moondheid, in die vorm van opleiding en wapens, gekry het.

Twee van die aangehoudenes ontsnap uit aanhouding, maar word weer aangekeer. Die skuldiges word skuldig bevind en tot lang tronkstraf gevonnis. In die tronk hou hulle egter vol dat 'n gewapende stryd geregverdig is. Tydens hulle termyn in die tronk word addisionele onskuldige, swart burgerlikes in terreuraanvalle vermoor. Die ringleier hou egter vol dat 'n gewapende stryd geregverdig is.

Hulle word later vrygelaat, waarná die ringleier afgeneem word waar hy tussen 'n groep militante regses op aandag staan en sing: "Maak swartes vrek!"

Sy vrylating lei ook regstreeks tot 'n omwenteling, na 'n blanke regering wat 'n ongekende vlaag rassisme teen swartes ontketen, waarvolgens daar op 'n hele aantal terreine teen hulle gediskrimineer word. Hulle word byvoorbeeld op grond van hul velkleur effektief verbied om 'n senior pos in die staatsdiens te bekom.

Op 'n dag besluit die blanke regering dat die ringleier se verjaardag in alle skole gevier sal moet word. Skoolkinders, en ook swart skoliere, sal 'n gedeelte van hulle tyd moet afstaan om hierdie ringleier se lewe en "prestasies" te vier.

Ek kan my indink dat só 'n besluit 'n resep vir moeilikheid sal wees. As Soweto se skoolkinders in 1976 uit protes teen Afrikaans as skoolvak geprotesteer, klippe gegooi en skole afgebrand het, sal 'n viering van 'n blanke terreursaaier se verjaardag tot ongekende geweld lei. Dit is te verwagte: so 'n regse leier is tog op geen manier 'n held vir 'n swart skoolkind nie. Inteendeel.

Bostaande scenario, soos die meeste lesers sekerlik al agtergekom het, is bykans 'n woordelikse beskrywing van die Rivonia-verhoor en die gebeure wat daarop gevolg het. Die regse ringleier in die scenario is bloot 'n blanke weergawe van Nelson Mandela. Mandela het inderdaad, nádat hy vrygelaat is, gesing "Maak dood die Boer".

Tydens president Zuma se toespraak verlede week het hy dan ook voorgestel dat skoolkinders 67 minute van hulle tyd moet afstaan om Mandela se 67 jaar van die struggle te vier. Ek het geen probleem daarmee as swart skoolkinders, die Britte of blanke sikofante se kinders so maak nie.

Ek het wel 'n enorme probleem daarmee dat my eie kind moet deelneem aan iets wat 'n verering van ander se afgod verteenwoordig, ʼn "heilige" wat 'n gewapende stryd teen my volk gelei en openlik gesing het dat mense soos ek en my kind gedood moet word. Dis absurd en 'n resep vir verset.

Oor my dooie liggaam sal my kind dus meemaak aan die verering van Sint Mandela. Die owerhede moet inteendeel bly wees dat ek as Afrikaner te beskaafd en ordentlik is om gewelddadig hierteen protes aan te teken, soos wat die swart skoolkinders in 1976 gemaak het. Sou daar egter wel een of ander vorm van eer aan Mandela van ons kinders vereis word, al is dit bloot om 'n opstel te skryf, sou een of ander vorm van vreedsame protes wel geregverdig wees.

Hy is moontlik vir die Britte, swartes en verwarde blanke gatlekkers 'n afgod, maar my afgod is hy baie, baie beslis nie.

Anton B

Oorsprong:LitNet
http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=67855&cat_id=160

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.