Sunday, 21 June 2009

Man lag toe hy pa doodskiet

Mnr. Ernest Stieler

Jun 18 2009 09:55:59:587PM - (SA)

Daniëlla du Plooy

’n BMW-bestuurder het ’n pa langs sy twee seuns doodgeskiet in ’n vermeende padwoedevoorval en “gelag terwyl hy die sneller getrek het”.

Die polisie het ’n identikit uitgereik van die man wat mnr. Ernest Stieler (39), ’n vervoerbestuurder by UTi Sun Couriers, op 16 Mei op die R562 noord van Johannesburg met ’n silwer rewolwer in die bors geskiet het.

Die moontlikheid word ondersoek dat dit ’n padwoede-aanval was, het supt. Sefako Xaba, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê.

Stieler se broer, mnr. Lucas Stieler, was kort ná die voorval op die toneel. Hy het gister aan Beeld gesê Ernest en sy twee seuns (13 en 16) het die betrokke Saterdag omstreeks 18:00 in ’n seegroen Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie op die R562 (Olifants-fonteinweg) in die rigting van Midrand gery. Die Stielers woon in Midrand.

“ ’n Swart BMW X5 met getinte vensters en ’n GP-nommerplaat het agter hulle gery,” het Xaba gesê.

“Die verdagte, saam met drie insittendes, het sy ligte geflikker. Toe Stieler nie na links beweeg het nie, het die verdagte tot langs hom gery.”

Volgens Xaba het die motorbestuurder ’n skoot op Stieler geskiet. Hy is in die bors getref en op die toneel dood. “Die verdagte het weggery.”

Stieler het ’n verkeerslig genader en reeds begin spoed verminder toe hy geskiet is. Een van sy seuns het die handrem opgetrek wat die motor tot stilstand gebring het.

Volgens Lucas Stieler het die twee seuns traumaberading ontvang.

“Hulle het egter aan my gesê die man het vir hulle gekyk en gelag terwyl hy die sneller getrek het. Dít krap aan hulle.”

Die seuns het gehelp om ’n identikit van die verdagte – ’n swart man in sy 30’s, oorgewig en met ’n kaalgeskeerde kop – saam te stel.

Daar was glo onder andere ’n swart vrou met lang, krullerige hare in die motor saam met hom.

Enigiemand met inligting kan insp. J Faull, ondersoekbeampte, bel by 082 301 2410 of ’n anonieme wenk laat by Crime Stop 08600 10111.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2531002,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.