Sunday, 28 June 2009

Man ‘sny aanvaller se keel half af’ ná kaping

Jun 25 2009 05:38:55:360AM - (SA)

’n Man van Johannesburg sê hy het ’n kaper se “keel halfpad afgesny” en nog ’n aanvaller twee keer met ’n mes in die linkeroog gesteek nadat hy verlede Woensdag in Midrand gekaap is.

Die kapers is egter nog skoonveld.

Mnr. Ray Sampson (34) van Orange Grove sê sy kennis van taktiese vegkuns het sy lewe gered.

Sampson sê sy kennis van Ghamgitsu, ’n Oosterse vegkuns wat onder inwoners van die Kaapse Vlakte bekend is, en Krav Maga, ’n Israelse vegkuns, het die deurslag gegee toe hy ná sy kaping sy aanvallers aangedurf het.

Sampson, ’n verkoopsbeampte, sê hy is omstreeks 12:00 die betrokke dag in Olifantsfonteinweg oorval toe hy met sy Subaru Forester stilgehou en uitgeklim het om ses koeldranke vir ’n bedelaarvrou en haar kind te gaan gee.

Twee gewapende mans het hom oorval en in sy motor gedwing. Een het voor langs hom gesit en die ander agter. Hy is aangesê om na Diepsloot te ry.

Daar het nog twee mans bygekom en hy is in sy motor se bagasieruim gedwing. Die kapers het in die rigting van die Hartbeespoortdam gery.

Hy is op ’n verlate grondpad naby ’n brug uit die motor gedwing, van alle kante toegetakel en van waardevolle items gestroop.

Sampson sê hy het die tegnieke wat hy jare gelede oorsee geleer het, toegepas en sy voorarms na sy bors toe getrek en sy rug gebuig om sy belangrikste organe te beskerm.

“Ek het net bly wonder hoe de hel gaan ek uit hierdie ding kom,” het Sampson gister vertel.

Die kapers het Sampson glo verskeie kere probeer skiet, maar die wapen wou nie afgaan nie. “Toe wil hulle my met pepersproei en ’n mes takel.”

Sampson het sy liggaam inmekaargetrek en gemaak of hy ’n hartaanval kry.

“Terwyl ek my borskas vasgeklem het, kon ek my Cult Steel Spike-mes in die hande kry uit die harnas wat onder my arm versteek was.”

Hy het sywaarts in die stof begin rol en sy aanvallers woes begin steek.

’n Aanvaller wat hom van agter om die nek vasgegryp het, het weggehardloop nadat Sampson “sy keel halfpad afgesny” het. ’n Ander wat hom van voor wou takel, het hy twee keer in die linkeroog gesteek. Die res het hy “rond en bont met wilde messteke verwilder”.

Sampson sê hy kon daarin slaag om met sy eie voertuig weg te jaag. – Amanda Roestoff

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2532869,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.