Sunday, 28 June 2009

Man tronk toe weens moord op 72-jarige

Jun 26 2009 09:09:46:120PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Die Zimbabwiër wat ’n vrou van Limpopo se vingerpunte met ’n snoeiskêr afgesny het is lewenslank tronk toe gestuur.

Brian Ncube (25) is vroeër vandeesmaand in die streekhof in Modimolle (Nylstroom) skuldig bevind aan onder meer die moord op mnr. Theuns Janse van Rensburg (72) van Mookgophong (Naboomspruit).

Ncube is ook skuldig bevind op ’n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer omdat hy mev. Hettie Janse van Rensburg (72) se vingerpunte aan haar linkerhand afgesny het. Haar regterarm was so erg gebreek dat twee bene by die vel uitgesteek het. Sy het ook erge kop- en gesigwonde opgedoen.

Ncube het die egpaar op 2 Desember 2007 in hul huis in Sewendestraat in Mookgophong aangeval.

Hy het by mnr. Janse van Rensburg se tuindienste-onderneming gewerk. Mnr. Janse van Rensburg is herhaaldelik oor die kop en lyf geslaan. Nadat sy vrou aangerand is kon sy daarin slaag om in die hoofslaapkamer se badkamer weg te kruip.

Mnr. Janse van Rensburg het nooit sy bewussyn ná die aanval herwin nie en is ’n paar dae later dood. Sy vrou kon weens haar erge beserings nie eens sy begrafnis bywoon nie. Sy woon sedertdien in ’n versorgingsoord in die Kaap.

Lede van die gemeenskap het Ncube twee dae ná die aanval vasgetrek. Hy het aan Beeld gesê hy wou mnr. Janse van Rensburg “seermaak”, want hy het hom glo “sleg” behandel.

Ncube, wat nooit om borgtog aansoek gedoen het nie, het in Julie verlede jaar probeer ontsnap toe hy ná ’n hofverskyning na die aangrensende polisiekantoor begelei is. Hy is ná nog ’n ontsnappoging na die gevangenis in Modimolle oorgeplaas.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2533695,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.