Sunday, 28 June 2009

‘My gelukkige dag’: 2 aanvallers se vuurwapens gaan nie af

Jun 24 2009 08:01:36:140PM - (SA)

Retha Grobbelaar

“Dit was maar seker my gelukkige dag.”

Só het mnr. Wynand Pretorius (55) van Delmas, Mpumalanga, gister gesê nadat sy twee aanvallers tydens ’n rooftog eergisteraand elkeen hul vuurwapen se snellers getrek het om hom te skiet, maar nie een se wapen afgegaan het nie.

Die aanvallers het ook herhaaldelik kookwater oor hom, onder meer in sy ore, gegooi en hom gewurg

Agt gewapende aanvallers het Pretorius en familielede van omstreeks 18:15 sowat twee uur lank in hul huis op ’n hoewe in Katboschfontein naby Delmas aangehou. By hom was sy vrou, Lydia (52), twee van sy kinders, Annette (27) en Gerhard (30), mev. Pretorius se ma, me. Doris Engelbrecht (72), en ’n vriend van Annette, mnr. Julian Pringle.

“Hulle het my ingewag. Eers het die een sy vuurwapen se sneller getrek en toe die ander een. Ek weet nie eintlik wat ek gevoel het nie, dis seker my gelukkige dag,” het Pretorius sr. uit die N17-hospitaal in Springs gesê.

“Hulle het my geslaan, toe maak ek of ek bewusteloos is. Ek het nog so gelê, toe begin hulle die kookwater oorgooi. Dit was baie seer. Hulle het ook kookwater oor my vrou gegooi.”

Pretorius het brandwonde aan sy kop, nek, rug en bors opgedoen en is gistermiddag geopereer. Mev. Pretorius is ook in die N17-hospitaal. Haar wangbene en neus is onder meer gebreek.

Die ander mense is net lig beseer en nie in die hospitaal opgeneem nie.

Volgens Engelbrecht was sy besig om Egoli in haar woonstel aan die huis te kyk toe sy ’n geskreeu gehoor het.

“Annette het ingekom met een van die aanvallers. Hy het my aan die nek gegryp en gewurg. Hy het my met sy vuurwapen na die eetkamer toe gestoot en net (in Engels) geskree: ‘Slaap!’ Ek sal nooit sy gesig vergeet nie,” het sy vertel.

“Ek wou nie opkyk nie. Ek was te bang hulle skiet my dogter (Lydia). Hulle het haar verskriklik gemartel. Hulle het haar met ’n staalknipper geslaan. Sy het gepleit hulle moet haar nie seermaak nie.

“My papegaai het bly roep ‘Ma, Ma’. Ek was so bang hulle gaan die diertjie doodmaak, maar hulle het nie.”

Die rowers het onder meer twee bakkies, sewe selfone, drie skootrekenaars, drie televisies, drank en geld gevat.

Hulle het die goedere omstreeks 20:00 in die bakkies gesit en gery. Mev. Pretorius het die polisie toe oor ’n burgerbandradio geroep.

Een van die bakkies is sowat 200 m van die hoewe gekry.

Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof, maar kan later ’n aanklag van poging tot moord byvoeg, het supt. Abie Khoabane, woordvoerder, gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2532815,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.