Sunday, 21 June 2009

Smeulende lyke: Tuinwerker in arres

Jun 19 2009 09:52:46:223PM - (SA)

Dries Liebenberg

Die 23-jarige tuinwerker van ’n pasgetroude paartjie wie se erg verbrande lyke begin vandeesweek nog smeulend in ’n bloekomplantasie in die KwaZulu-Middellande gevind is, is in verband met die moorde in hegtenis geneem.

Volgens sr.supt. Henry Budhram, polisiewoordvoerder, is die man eergister in die Merrivale-omgewing naby Howick aangekeer. Elektroniese toerusting wat tydens die aanval Dinsdag op mnr. Alan O’Neale (57) en sy vrou, me. Hannetjie Blom (40), geroof is, is glo in die man se besit gevind.

Sowat ’n week voor die moorde was daar probleme tussen die egpaar en die tuinwerker oor beweerde diefstal uit die huis, het Budhram gesê. Op die oog af was die kwessie opgelos en die egpaar het nie ’n klag by die polisie ingedien nie.

Die polisie glo nou wraak was die motief vir die moorde.

’n Lykskouing het gewys die egpaar, wat net meer as twee maande getroud was, is verwurg voordat hul lyke in die plantasie langs die Beverley-gasteplaas by Dargle aan die brand gesteek is.

Me. Vicki Shaw, Blom se voormalige werkgewer, het vroeër gesê die egpaar was vriendelike mense “wat die klere aan hul lyf sou weggee om iemand te help”.

Die Volkswagen Jetta wat aan Shaw se biltongwinkel in Howick behoort en wat Blom gebruik het, is Dinsdagaand op die pad tussen Dargle en Impendle gekry waar dit teen ’n padteken gebots het.

Die egpaar se lyke is die oggend in die plantasie ontdek nadat mense die rook gewaar en gaan ondersoek instel het.

Die Jeep Cherokee waarmee O’Neale gery het, maar aan sy werkgewer behoort het, is die volgende dag langs die N3-hoofweg by Hilton gevind.

Die tuinwerker sal na verwagting oormôre in die landdroshof in Howick verskyn.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2531333,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.