Sunday, 19 July 2009

22 j. elk vir moord op filantroop

Dr. Piter Ernst en sy jongste seun, Maxwell ( nou 11).

Jul 18 2009 02:09:11:010AM - (SA)

Susan Cilliers

Die moordenaars van ’n Johannesburgse mediese dokter en filantroop is gister elk tot 22 jaar tronkstraf gevonnis.

Mnr. Pieter Ernst jr. (23) het gister ná vonnisoplegging in die hooggeregshof in Johannesburg gesê dit sal nie sy naamgenoot-pa terugbring nie, maar “dit help om te weet twee mense is gevang en in die tronk”.

Chabuse Steve Lebakeng en Khaladi Thabang jr. (albei vroeg in die 30) is skuldig bevind aan moord, gewapende roof en die onwettige besit van ’n vuurwapen.

Ernst jr. het vertel sy pa (toe 48) het op 29 Julie 2005 laatmiddag na die familie se uitspanplaas by Hekpoort naby Magaliesburg gery om werkers te gaan betaal.

“By die plaas-ingang moes hy oor pype met openinge tussenin ry, maar ’n stok het deur een van die openinge gesteek. Hy het uitgeklim om dit te verwyder toe twee rowers hom oorval en hom in die agterkop skiet.”

’n Polisieman het omstreeks 19:00 op die lyk afgekom. Koeverte met loongeld en Ernst sr. se selfoon en iPod is gesteel.

“Van ons familielede voel die rowers moet lewenslank tronk toe, maar hulle was al ’n paar jaar in aanhouding voor gister se vonnisoplegging. Ek is tevrede dat, in ag genome die toestande in tronke, hulle lank genoeg sal sit,” het Ernst jr. gesê.

Die rowers – een was ’n voormalige werker van Ernst sr. wat weens diefstal afgedank is – is volgens Ernst jr. kort ná die moord vasgetrek. “Die twee rowers het glo gespog oor wat hulle gedoen het. Stories het op ons plaas begin versprei en die werkers het ons vertel onder andere iemand met die bynaam Chilli Boy was betrokke. Ons het die polisie laat weet en die twee is gevang.”

Dr. Ernst het die nie-regeringsorganisasie Maranghuis in 1998 in Northcliff, Johannesburg, gestig.

Hy het ná sy emigrasie uit Nederland na Suid-Afrika ’n paar jaar in staatshospitale gewerk.

“Hy het gesien hoe kinders met ernstige siektes letterlik in hospitale leef. Hy het ’n huis agter sy spreekkamer gekoop om ’n tuiste vir dié kinders te bied terwyl hulle in die hospitaal behandel word.

“Ons het sedertdien na meer as 70 kinders omgesien,” het Ernst jr. gesê. Hy is nou uitvoerende direkteur van die huis. Hy het twee jonger broers, Hugo (20), wat in Nederland woon, en Maxwell (11).

Ernst jr. het gesê Maranghuis kry veral nou in die moeilike ekonomiese tye swaar.

Meer inligting is by www.maranghouse.org beskikbaar.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2539871,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.