Sunday, 26 July 2009

3 selfde dag as roudiens in hof oor moord op man

Jul 24 2009 09:21:34:797PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – Drie mans het gister, op die dag van ’n roudiens vir ’n plaaslike sakeman, in verband met sy gru-moord hier in die hof verskyn.

Mnre. Terence Maredi (25) van die Sebajeng-nedersetting naby Solomondale, Jan Lamola (27) en Marius Mokgokong (22), albei van Moletji, is nie gevra om op aanklagte van moord op mnr. Gericke Smit (28) en motordiefstal te pleit nie.

Me. Lilly Thaba, staatsaanklaer, het gesê die moordaanklag word as ’n skedule ses-misdryf beskou. “Dit is baie ernstig.”

Die drie moet op 4 Augustus weer in die hof verskyn. Hulle sal dan om regshulp en moontlik ook borgtog aansoek doen.

Maredi en Lamola is werkers van mnr. Rampie Smit, pa van die vermoorde. Lamola se ma, Maria, werk al meer as tien jaar vir die Smit-gesin.

Smit jr. is verlede Saterdag vermoor toe hy werkers by sy pa se gebou in Hans van Rensburgstraat sou betaal.

Smit sr. is ’n bekende prokureur en sakeman. Sy seun het sy geboue in die stad vir hom bestuur.

Smit jr. is vermoedelik etlike kere met ’n graaf oor die kop geslaan en met die plastiekhandvatsel van ’n groot verfemmer verwurg. ’n Groen plastieksak is glo om sy kop vasgebind.

’n Roudiens vir Smit jr. is gister in die NG kerk Noord gehou.

“Om seer te probeer systap is nooit ’n goeie idee nie,” het ds. Adriaan van Tonder aan die vermoorde se ouers gesê. “Moenie bang wees om te onthou nie. Dit gaan seer wees, maar herinneringe is kosbare skatte wat gekoester moet word.”

Smit jr. se lyk sal oormôre na Pretoria geneem word vir ’n ondersoek deur ’n forensiese patoloog.

Oorsprong:IOL
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2541900,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.