Sunday, 26 July 2009

‘Aanstellings al jare geweier oor ons wit is,’ kla reserviste

Jul 24 2009 07:43:37:733AM - (SA)

Gloria Edwards

Verskeie wit polisiereserviste se aansoeke om permanente poste in die polisiediens word al ’n geruime tyd afgekeur, na bewering omdat hulle wit is.

Dit het aan die lig gekom nadat ’n groep reserviste van Pretoria by Beeld gekla het hulle “sukkel al jare om permanente polisielede te word omdat ons wit is”.

Dié reserviste, van onder meer die Sunnyside- en die Hercules-polisiekantoor, beweer daar is aan hulle gesê nie-wit reserviste kry voorkeur wanneer vakante permanente poste gevul word.

Mnr. Anton Wessels, wat die afgelope tien jaar as reservis-konstabel werk, se aansoeke is “al verskeie kere afgekeur”.

Hy het ook nog nie rangbevordering gekry nie.

“Nie-wit reserviste wat ná my begin werk het, het al poste gekry.

“Ons is sowat 20 wit reserviste in Pretoria wat sonder vergoeding net so hard as permanente lede werk. Ons word op die nippertjie gevra om te kom werk.

“Al wat ek ooit wou wees, is ’n polisieman, maar ek is nog nooit die geleentheid gegun nie.”

Nog ’n reservis, wat ook al tien jaar sukkel om ’n permanente pos te kry, het gesê daar is aan hom gesê hy sal “nooit ’n pos kry nie omdat ek wit is en nie matriek het nie. Ander nie-wit reserviste wat egter net st. 5 het, het al poste gekry.”

Hy beweer daar is nie genoeg vuurwapens vir reserviste nie.

“Daar is dikwels vier wit reserviste wat ’n area van 250 km moet dek, terwyl tien nie-wit lede in die kantoor sit.”

Volgens ’n reservis-inspekteur met 21 jaar diens in die reserwemag is dié groep reserviste se werkure na bewering nie by die hoofkantoor geregistreer nie en hul name sowat ’n maand gelede “summier van die stelsel afgehaal”.

Dié man sê sommige nie-wit reserviste word aangestel sonder dat hulle die nodige opleiding ondergaan het.

“Ons is nie rassiste nie, ons voel net ons kry nie die nodige ondersteuning en erkenning nie en daar is geen gelykheid nie. Ek weet van nog ses wit reserviste wie se aansoeke afgekeur is.”

Supt. Eugene Opperman, Gautengse polisiewoordvoerder, het geen van Beeld se vrae oor dié bewerings beantwoord nie. Hy het wel gesê lede van die polisie se hoofkantoor het op 6 en 8 Julie met reserviste vergader waartydens “verskeie interne kwessies bespreek is”.

“Die wette, vasgestelde kriteria en gedragskode in verband met reserviste se aanstelling, bevordering en werkomstandighede is met hulle bespreek... As reserviste ongelukkig is met werkomstandighede kan hulle die grieweprosedure gebruik.”

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2541434,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.