Sunday, 26 July 2009

Byna almal van bende vas ná moord op man

Jul 24 2009 09:38:16:753PM - (SA)

Hilda Fourie

Byna al die lede van ’n sindikaat wat vermoedelik betrokke was by die moord op ’n bejaarde man op ’n kleinhoewe by Shere, in die ooste van Pretoria, is vasgetrek.

Supt. Gavin The-Kisho, stasiebevelvoerder van die Boschkop-polisiekantoor, het gesê ’n operasie is eergistermiddag, ná die moord op mnr. Bob Round (79), begin om sy moordenaars vas te trek.

Round is eergisteroggend vermoedelik deur drie inbrekers wat sy kleinhoewe as ’n ontsnaproete gebruik het, geskiet.

Die mans het na bewering by ’n huis in Faerie Glen ingebreek. Hulle het vermoedelik die koppies van Bronberg – tussen Faerie Glen en die hoewe – as ontsnaproete gebruik.

The-Kisho het, toe hy van die voorval hoor, twee lede in die aanklagkantoor en twee vroulike administratiewe werkers by die polisiekantoor gelos en die res van die personeel na die toneel gestuur om te help om die misdadigers vas te trek.

Wagte van verskeie veiligheidsmaatskappye en lede van die gemeenskap het ook ingespring.

Polisielede het later twee mans, wat ná die moord die koppies ingevlug het, vasgetrek.

’n Derde het glo by die kleinhoewe se ingang in ’n taxi geklim en gevlug.

Later dieselfde dag het speurders van die Boschkop-polisiekantoor en lede van die eenheid teen georganiseerde misdaad leidrade opgevolg wat gelei het tot die arrestasie van die derde verdagte en die taxibestuurder.

Daar is ook beslag gelê op die taxi, wat na bewering gebruik word om die verdagtes af te laai en weer op te laai ná ’n misdaad.

Volgens The-Kisho is nóg vyf mans, ook deel van die sindikaat, gearresteer.

Dié mans word ook verbind met die skietery Woensdagaand waar mnr. David Malema (35), ’n plaaswerker, doodgeskiet en mnr. Wim van den Bosch in die bors getref is.

The-Kisho het gesê die polisie is warm op die spoor van nog twee lede van die sindikaat.

Die polisie het vier vuurwapens, waarvan een Round s’n was, ammunisie en Round se horlosie teruggekry.

“Die gearresteerde verdagtes is van Mamelodi (in die ooste van Pretoria),” het The-Kisho gesê.

“Die misdadigers van Mamelodi en Eersterust wat ons teiken, moet versigtig wees. Ons is op julle spoor en gaan julle nie verdra nie.”

Die sindikaatlede kan moontlik verbind word met ander huisrooftogte, kapings en sakerooftogte in die Boschkop-polisiewyk.

Polisie vra hulp

Die enigste manier waarop misdaad in die Boschkop-polisiewyk in die ooste van Pretoria bekamp sal word, is met die hulp van die gemeenskap.

So het supt. Gavin The-Kisho, stasiebevelvoerder van die Boschkop-polisiekantoor, gister gesê.

Dié polisiewyk beslaan 465 km2.

Daar is sowat 100 komplekse, wat onder meer die Silver Lakes-, Mooikloofrif-, Mooikloof-, Silver Woods en The Hills-landgoed insluit.

Daarby is daar tien winkelsentrums, ondernemings, kleinhoewes en verskeie woonbuurte.

Die polisiekantoor het slegs nege speurders wat sake ondersoek. “Weens die grootte van die polisiëringsgebied het ons die gemeenskap nodig om ons oë en ore te wees,” het The-Kisho gesê.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2541908,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.