Sunday, 26 July 2009

Graafmoord: Verdagte bel prok, vra sy loon

Mnre. Terence Maredi, Jan Lamola en Marius Mokgokong kort ná hul inhegtenisneming weens die moord op mnr. Gericke Smit.

Jul 22 2009 08:32:43:700PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – Sowat ’n uur ná die moord op sy seun het een van die vermeende moordenaars ’n plaaslike prokureur glo gebel en gevra waar sy geld vir bouwerk is.

Mnr. Gericke Smit (29) het toe reeds dood in die gebou wat na sy pa, mnr. Rampie Smit, genoem is, gelê, maar Smit sr. het dit nie geweet nie.

Hy het later Saterdag op sy seun se bebloede lyk afgekom.

Mnre. Terence Maredi (25), Jan Lamola (27) en Marius Mokgokong (22) het eergister aan landdros Elizabeth Hurter van die Polokwane-landdroshof beken hulle het Smit jr. doodgemaak. Maredi en Lamola is werkers van Smit sr. Mokgokong is hul vriend.

Mnr. Philip Smit, ’n neef van Smit jr. en ook ’n prokureur, het gesê die drie beskuldigdes beweer hulle het uit selfverdediging opgetree. Hulle sal vandag in die Polokwane-landdroshof op onder meer aanklagte van moord verskyn.

Supt. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder, het gesê tydens die mans se arrestasies eergister is beslag gelê op Smit jr. se motor en sy beursie met R200 daarin.

Bloedbevlekte klere is by van die beskuldigdes se huise gekry. Forensiese toetse sal gedoen word om vas te stel of Smit jr. se bloed daarop is.

Smit jr. is Saterdagoggend na die gebou om werkers te betaal. Hy is vermoedelik in die stoorkamer van agter oorval en glo meer as agt keer met ’n tuingraaf oor die kop geslaan en gekap.

“Hulle moes hom geweldig hard geslaan het as na sy beserings gekyk word,” het Philip Smit gesê.

Volgens hom is ’n bebloede graaf en ’n skottel met bloederige water en lappe in die stoorkamer gekry. Merke op die nuutgeverfde wit mure het gewys bloed is daarvan afgewas. Fyn bloedspatsels kon glo teen die mure gesien word.

Polisielede van die forensiese afdeling se misdaadondersoekeenheid in Pretoria is Maandag na Polokwane ontbied nadat Philip Smit hy by die polisiebestuur gekla het oor die manier waarop die Polokwane-polisielede op die toneel leidrade glo misgekyk het.

Beeld het gister foto’s gesien wat kort ná die moord van die stoorkamer geneem is. Die vertrek is bloedbesmeer met groot kolle bloed byna oral op die wit teëlvloer. ’n Verfblik is ook te sien waarvan die handvatsel glo afgeruk is om Smit jr. mee te verwurg. Die handvatsel is glo in ’n groen plastieksak by sy kop gekry.

Daar was glo ’n bloederige skoenafdruk op Smit jr. se broek. “Ons vermoed hy is op sy been vasgetrap, sodat hy nie kon beweeg nie,” het Philip gesê.

Die uitslag van die nadoodse ondersoek is nog onbekend.

Smit jr. se beenweefsel gaan aan die Sentrum vir Weefselnavorsing aan die Universiteit van Pretoria geskenk word, maar die familie gaan eers ’n ondersoek deur n onafhanklike forensiese patoloog in Pretoria laat doen om vas te stel hoe erg die impak van Smit jr. se beserings was.

’n Roudiens word vanoggend om 11:00 uit die NG noord-gemeente in die stad gehou.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2541038,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.