Sunday, 19 July 2009

Honde waak by baas se lyk

Jul 15 2009 08:42:57:193PM - (SA)

Hilda Fourie

Toe sy hom sien, het hy dood op die vloer van die sitkamer gelê met sy Jack Russell-honde wat aan hom lek.

So het mev. Elsabé Roets (55) gister in trane vertel oor hoe sy haar man, mnr. Nick Roets (55), eergistermiddag in hul huis op die Raslouw-kleinhoewes in Centurion aangetref het. Hy het ’n skietwond in sy bors gehad.

Mev. Roets het omstreeks 12:45 ’n aflewering vir hul vrugtesap-onderneming gedoen.

In die tyd wat sy weg was, het sy heeltyd probeer om haar man op sy selfoon en die huistelefoon te bel, maar hy het nie geantwoord nie.

Toe sy sowat ’n uur later by die huis instap, het sy gesien die lessenaar staan skeef en “die wêreld was geplunder”.

“Ons was ses jaar gelede in ’n gewapende rooftog. Ek het dieselfde angsgevoel en benoudheid gekry,” het mev. Roets gesê.

“Ek het gegil: ‘Nick waar is jy? Praat met my.’

“Toe ek instap het hy net daar op die vloer op sy rug gelê. Daar was ’n bloedkol op sy klere.

“Ek het aan hom gevat. Hy het ’n doodse koue gehad.”

Mev. Roets het dadelik hul drie seuns en die polisie gebel.

Volgens mev. Roets is een van hul sewe honde in die skouer geskiet. Hy is in die motorhuis gekry waar hy weggekruip het.

Hul boerboel was in die hoofslaapkamer toegemaak en die res het by Roets se lyk gestaan en aan hom gelek.

“Ek kon nie glo mense doen dit aan hom nie,” het sy gesê.

“Hy was hier op sy eie, besig om hom met sy eie sake te bemoei. Hulle kon mos net alles gevat het, wat hulle in elk geval gedoen het. Hy sou dit vir hulle gegee het. Hoekom moes hulle hom so wreed doodmaak?”

Mev. Roets het gesê haar man was “vet en vriendelik”. Hy het gerook, gevloek en was mal oor ’n koppie tee.

“Hy was ’n groot man met ’n klein hartjie,” het sy gesê.

Die moordenaars het rekenaars, ’n skootrekenaar, twee vuurwapens, ’n hoëtroustel en kontant geroof.

Volgens mev. Roets is haar man op dieselfde dag en tyd dood as sy pa, mnr. Martin Roets, wat 27 jaar gelede aan ’n hartaanval gesterf het. Mnr. Roets laat ook sy drie seuns, Martin (27), Jurgen (24) en Nici (22), agter.

Die finale begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

Kapt. Louise Reed, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2539077,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.