Sunday, 26 July 2009

'Hy sou sê hy is fine'

Jul 24 2009 07:57:00:540AM - (SA)

Hilda Fourie

Sy het gisteroggend in haar kombuis gestaan, ’n geskreeu gehoor en toe skote.

Kort daarna het mev. Myra Round (74) op haar noodlottig gewonde man, Bob (79), afgekom. Inbrekers wat hul hoewe by Shere, oos van Pretoria, as ontsnaproete gebruik het, het hom vermoedelik geskiet.

“Ek het vir Bob gesê hy moet nêrens gaan nie. Hy moet vir my wag. Ek dink hy was toe reeds dood, want as hy nog gelewe het sou hy vir my gesê het hy is fine. Dis hoe hy was.”

Twee van die vermeende moordenaars is kort ná die moord aangekeer.

Mev. Round het vertel ’n werker het haar man omstreeks 08:00 geroep en gesê daar is baddies in die koppie.

“Bob het sy wapen gegryp en is hier uit.”

Mnr. Round het vermoedelik op drie mans afgekom wat glo kort tevore by ’n huis in Faerie Glen ingebreek het.

Die Bronberg lê tussen dié woonbuurt en die kleinhoewe.

Misdadigers gebruik die pad oor die koppies as ’n ontsnaproete.

Supt. Gavin The-Kisho, stasiebevelvoerder van die Boschkop-polisiekantoor, het gesê die mans het gesteelde goedere in hul hande gehad.

Mnr. Round het hulle gekonfronteer, waarna ’n skietgeveg tussen hulle uitgebreek het en dié afgetrede ingenieur noodlottig getref is. Ooggetuies het ses skote gehoor.

“Ek het ’n geskreeu en skote gehoor en dadelik die polisie gebel,” het mev. Round gesê.

“Die werker het hier aangekom en gesê ek moet iets doen, want hulle het Bob geskiet.”

Mev. Round en die werker het toe na ’n kliphuisie, sowat 100 m van die huis, geloop en op haar man afgekom wat met sy hand oor sy gesig langs die huisie gelê het. Daar was reeds van die bure by mnr. Round.

“Ek het gehoop daar is ’n kans dat hy nog sal lewe, maar daar was niks.”

Ná die skietery het een van die mans glo in ’n taxi by die kleinhoewe se ingang geklim en weggery, terwyl die ander twee die koppie ingevlug het.

The-Kisho en ander polisielede het die koppies ingevaar.

Beamptes van verskeie veiligheidsmaatskappye en lede van die gemeenskap het ook ingespring om na die mans te soek.

Die polisie het dié twee, wat ook op ’n polisiehelikopter geskiet het, aangekeer. The-Kisho het self een van hulle gevang.

Me. Marj van Vuren (74) het gesê om jou broer só aan die dood af te staan is “verskriklik pynlik”.

“Hy is die laaste persoon wat ek verwag het vermoor sal word,” het Van Vuren gesê terwyl die trane oor haar wange rol.

Mnr. Round laat ’n seun, Craig (44), van Kaapstad, en ’n dogter, Heather (42), wat in Australië is, agter.

Oorsprong:Beeld
http://jv.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2541509,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.